
’n Aantal van Woolworths Australië se verskaffers is twee weke tyd gegee om hul pryse met tussen 5% en 10% te verlaag of hul plek op winkelrakke te verloor. Dié stap volg glo weens ’n “prysoorlog” tussen dié supermarkgroep en Coles, een van sy mededingers.
Luidens ’n berig op The Land sê ’n voedselvervaardiger dít is die mees ongenaakbare onderhandelinge wat hy nog in sy 30 jaar in die bedryf beleef het. Mnr. Nick Xenophan, ’n onafhanklike senator in dié land, wat gekant is teen die sowat 80% gekombineerde markaandeel wat die twee supermarkgroepe in die land geniet, het die groep gedreig met ’n parlementêre verskyning om sy besluite en optrede te verduidelik.
Dié aankondiging volg sowat vyf maande ná mnr. Rod Sims, voorsitter van die Australiese mededingings-en-verbruikerskommissie, vervaardigers gevra het om supermarkte wat hul mag misbruik, te brandmerk.
Brief
Verskaffers is deur middel van ’n brief van die stap in kennis gestel. Volgens die brief het hulle twee weke om op die versoek te reageer. Die Australiese voedsel-en-kruidenierswareraad (AFGC) het verskaffers glo van die brief in kennis gestel.
Die groep sê glo verskaffers se pryse is gulsig, en die stap is gegrond op ’n verslag wat deur ’n konsultant opgestel is. Meer inligting oor die verslag is egter nie aan verskaffers gegee nie.
Niks buitengewoon
Me. Claire Kimball, woordvoerder vir Woolworths in Australië, sê niks buitengewoon is tans aan die gebeur nie, en daar is geen spertyd van twee weke vir onderhandelinge nie. “Wanneer ons ons posisie aan verskaffers bekend maak, vra ons hulle gereeld om binne twee weke daarop te reageer. Vir onderhandelinge soos hierdie is deurlopende bespreking egter nodig.”
Intussen het Woolworths Suid-Afrika aan Landbou.com gesê: “Woolworths in Suid-Afrika het geen verhouding met Woolworths in Australië nie. Ons kan dus geen kommentaar lewer op sy sakebesluite nie.”
Bron: The Land