‘n Boer en sy vrou is die naweek wreed met byle op hulle melkplaas in Malmesbury aangeval, sê die Wes-Kaapse Simmentaler-klub. Luidens ‘n omsendbrief van die klub het die aanval Vrydagoggend (18 November) plaasgevind.
Mnr. Pieter Loubser, en sy verloofde Brenda, is deur drie mans met byle oorval nadat die mans hulle huis se deur oopgebreek het. Mnr. Thys Swart, voorsitter, sê die egpaar het beide ernstige hoofbeserings opgedoen.
Operasie
Mnr. Carl Opperman, hoofbestuurder van Agri Wes-Kaap, sê Loubser is geopereer en hy word steeds in die waakeenheid van ‘n plaaslike hospitaal behandel. Brenda word ook in ‘n plaaslike hospitaal behandel.
Opperman sê die Polisie volg tans leidrade op om die drie mans aan te keer.
Voedselsekerheid
Swart sê plaasaanvalle plaas die land se voedselsekerheid onder groot gevaar.
“Onverantwoordelike optrede en uitsprake deur radikale jong politici is direk verantwoordelik vir hierdie tendens en dit terwyl hulle elke dag versadig eet aan voedsel wat deur dieselfde landbouers geproduseer word,” aldus Swart.
20 November 2011