
Twee wrede skaapdiewe wat in die Cathcart-distrik in die Oos-Kaap in hegtenis geneem is omdat hulle skape se bene gebreek het om die diere te steel, is al weer op vrye voet.
Volgens adj. Attie Goosen van die SAPD se veediefstal-eenheid in Thomas River is die saak van diefstal en dieremishandeling teen een beskuldigde voorlopig teruggetrek omdat sy medepligtige, wat reeds uit op borgtog was toe die misdaad vroeg in September plaasgevind het, nie vir die verhoor opgedaag het nie. ‘n Lasbrief is uitgereik vir sy inhegtenisneming.
Die twee diewe is aangekeer toe hulle vyf dragtige ooie op die plaas van mnr. John Gary Wardle se bene morsaf gebreek het. Sy plaas, Arundel, is geleë aan die N6-hoofweg tussen Cathcart en Stutterheim.
Wardle het in 2011 dieselfde oortreder, bekend as “Nkosinathi”, vasgetrek toe hy 17 skape op dieselfde wrede manier verloor het.
Wardle sê die dief en sy makker het die skape tot by die pad gejaag, hulle bene gebreek en hulle oor die draad gegooi, vermoedelik sodat iemand hulle later met ‘n voertuig kan kom optel.
“Gewone diewe bind die skape se bene vas, maar nie dié twee nie. Ek is keelvol. Ek het elke Maandag hof toe gegaan en die een Maandag wat ek nie gegaan het, het die staatsaanklaer die saak teruggetrek. Nou gaan daar niks van kom nie,” sê Wardle.
Volgens Wardle het hy die oortreders gesien toe hulle oor die draad spring en weghardloop. Hulle het ook in hulle verklarings na bewering erken dat hulle aan die diefstal skuldig is. “Maar die staatsaanklaer sê daar is nie genoeg bewyse nie.”
Wardle, wat van selfoonsender-halsbande gebruik maak wat hom waarsku as daar abnormale aktiwiteit by sy skape voorkom, is nou raadop. “Dis net onbevoegdheid, dit is al wat dit is,” sê hy.
Hy het in November weer skade gelei toe vyf stoetramme ter waarde van R20 000 gesteel is. Volgens Goosen word vermoed die twee oortreders het na Mdantsane buite Oos-Londen gevlug.