Die situasie ten opsigte van plaasmoorde is in ’n dokumentêre rolprent vasgevang wat wêreldwyd gesien kan word.
Luidens ’n berig in Volksblad begin die rolprent met die grusame moord van mnr. Attie Potgieter, sy vrou Wilma en hul tweejarige dogtertjie, Willemien, van die distrik Lindley.
Mnr. Rian van der Walt, ’n rolprentvervaardiger, sê hy het op Louis Trichardt in Limpopo grootgeword en hoewel hy nie op ’n plaas gewoon het nie, het plaasmoorde die gemeenskap altyd geruk. Hy het homself toe al voorgeneem dat hy ’n rolprent oor plaasmoorde sal maak.
Hy het besluit om die rolprent met emosionele beeldmateriaal oor dié voorval te begin, omdat dit volgens hom “die ergste is (van al die plaasmoorde).”
Die rolprent
Die rolprent, War of the Flea, vertel statisties hoe baie boere wreed vermoor word en dit ondersoek redes vir die aanvalle. Verder stel dit ook kwessies, soos grondhervorming, mnr. Julius Malema (ANC-jeugleier) se haatspraakverhoor, die Regering se optrede met betrekking tot plaasmoorde en die gevolge van die apartheidsregering in die kollig.
Mnr. Prince Mashele, hoof van die Sentrum vir Politiek en Navorsing in Pretoria, en dr. Johan Burger, senior navorser by die Instituut vir Sekerheidstudies, verduidelik ook sekere aspekte oor geweld in die samelewing in die rolprent.
Van der Walt onderhandel tans met die SABC om die rolprent uit te saai, en hy het dit ook ingeskryf vir plaaslike en oorsese rolprentfeeste.
Bron: Volksblad
31 Oktober 2011