
Groot dele van die somersaaigebied het nog wydverspreide en deurdringende reën nodig, wys ’n opname deur Graan SA.
In Noordwes, waar die optimale planttyd nou is, is nog nie baie geplant nie omdat die meeste neerslae nog net kol-kol was, sê me. Petru Fourie, ekonoom, wat die opname gedoen het. ’n Groot persentasie van dié boere wat wel plant, moes ook teen middel verlede week (10 Des) stilstaan omdat dit nog te droog was. Ondergrondse vogtoestande was in die algemeen nog redelik swak daar.
In die Noordwes-Vrystaat het ’n beraamde 70% van die boere hul somergraan-aanplantings afgehandel. Ook in dié gebied moes party produsente vir ’n tydjie halt roep om eers vir nog reën te wag, maar hul seisoen het op die meeste plekke tot dusver relatief gunstig verloop. Die meeste produsente wat ontkiemingsprobleme met vroeë sojabone op die lyf geloop het, het oorgeplant.
In Limpopo het die optimale planttyd middel Desember begin, maar in die algemeen was dit nog te droog om te plant omdat dit net plek-plek gereën het. Op sandgrond kon plantery wel begin, maar op die turflande is nog meer reën nodig.
In Mpumalanga en Kwazulu-Natal het die seisoen tot dusver moeilik tot baie moeilik verloop. In albei provinsies het aanvanklike droogte plantery vertraag, met sowat twee weke. In Mpumalanga was daar aanvanklike ontkiemingprobleme in sekere dele, maar teen middel verlede week het die meeste jong gesaaides darem goed vertoon.
Boere in Kwazulu-Natal se oeste het egter vandeesweek meestal ondergemiddeld vertoon, weens hael, kol-kol-reën en standprobleme. Hulle het dringend deurdringende reën nodig.
Die Oos-Vrystaat was die een gebied waar die seisoen tot dusver besonder gunstig verloop het, ook met ’n goeie afskop. Die meeste boere in dié streek se somer-aanplantings was teen 10 Desember afgehandel, sê Fourie.