Mnr. Jean Engelbrecht van Rust en Vrede naby Stellenbosch het gewaarsku private wynboere moenie te veel verwagtinge oor die Ooste as uitvoerbestemming koester nie.
Engelbrecht het Rust en Vrede gister (17 Februarie) vir die eerste keer in jare vir ‘n groepie wynmedia oopgestel. ‘n Interessante wynproe, met Cabernet Sauvignon wat sover terug as 1979 (twee jaar nadat sy bekende pa Jannie die plaas gekoop het) dateer, is aangebied.
Verskillende rooiwyne uit die Engelbrechts se vier dekades op Rust en Vrede is oopgemaak en het duidelik getoon hoe style oor tyd verbeter het, sonder om die unieke karakter van die plaas in te boet.
“Dit is belangrik dat mense verstaan waaroor hierdie plek (Rust en Vrede) gaan. Daar is nie ‘n enkele generasie wat alles kan vervolmaak nie. My ouers het een generasie geneem om sake op te bou. ‘n Generasie later het ek ‘n soliede en goeie fondasie gekry om mee te begin. My uitdaging was om nie net die plaas te onderhou nie, maar om dit te verbeter en verder te bou. Ons moes ons uitkyk oor baie dinge verander. Om ekonomies te oorleef is dit nodig om onsself, ons wynmakery en ons handelsmerk te herposisioneer.”
Rust en Vrede is bekend vir die uitmuntende rooiwyne wat op die plaas geproduseer word. Sowat 60% van die 36 ha wingerdaanplantings is Cabernet Sauvignon en die res is hoofsaaklik Shiraz.
“Die wynbedryf gaan deur diep waters. Jy moet skerpsinnig wees oor elke skuif wat jy maak, jy moet oor langtermynvisie beskik en ook realisties wees oor wat jy kan produseer en waar jy dit gaan verkoop,” sê En gelbrecht.
Uitvoere
Sowat die helfte van Rust en Vrede se wyn word uitgevoer. Die Amerikaanse mark is hul grootste uitvoerbestemming en Duitsland is ook ‘n belangrike mark. Byna 25% van die wyn wat plaaslik verkoop word, kry deur verkope op die plaas ‘n nuwe huis. Die bekroonde restaurant wat deur sjef David Higgs bestuur word, het ook ‘n aansienlike hupstoot vir plaaslike wyne beteken.
Daar word deesdae baie klem op China en ander Oosterse lande as ‘n ontluikende wynmarkte geplaas. Engelbrecht waarsku egter dat hierdie ‘n baie moeilike mark is om aan te voorsien.
“Ek dink daar is te veel verwagtinge. Dit is ‘n baie moeilike mark met groot, groot uitdagings vir kleiner produsente. Die Distells, KWV's en Namaquas het ander doelwitte en daarom kan hulle hierdie markte ondersoek. Produsente wat nou, met die ekonomiese afswaai, presteer is dié wat 100% toewyding en diens aan hul markte gee.”
18 Februarie 2011