
Die Kaapstad-handelsmerk gaan voortaan ’n hupstoot aan die Suid-Afrikaanse wynbedryf bied met die skepping van 'n nuwe Wyn van Oorsprong-distrik.
Die Wyn- en Spiritusraad se Afbakeningskomitee ingestem het om die nuwe distrik na Kaapstad te vernoem.
Constantia, Durbanville, Philadelphia en Houtbaai is die wyke wat val onder die nuwe distrik, wat meer as 2700 ha en sowat 7,6 miljoen wingerdstokke beslaan. Altesame 30 wynprodusente sal nou “Wyn van Oorsprong Kaapstad” op hul wynetikette kan aandui. Dit hou heelwat bemarkingsgeleenthede in.
Geskiedkundig
“Ons maak geskiedenis. Hierdie is 'n geleentheid wat ons bedryf nodig het om Suid-Afrikaanse wyn op 'n nuwe vlak te bring,” het mnr. Bennie Howard, Meerendal se bemarkingsbestuurder, tydens die bekendstelling op 1 Junie in Kaapstad gesê.
Volgens mnr. Alan Winde, minister van ekonomiese geleenthede in die Wes-Kaap, is die Kaapstad-handelsmerk groter as dié van Suid-Afrika. Nie net sal dit wynverkope aanspoor nie, maar die nuwe distrik sal help om aan die wêreld “te wys wie ons is”.
Hy het verwys na die sterk groei van die Kaapse toerismebedryf en gesê wyn speel 'n belangrike rol om besoekers na die land te lok.
“Hierdie stap is presies die regte manier om meer gebottelde wyn te verkoop en waarde te bou.”
Volgens mnr. Rico Basson, uitvoerende hoof van VinPro, word daar elke dag van die jaar 'n miljoen bottels Suid-Afrikaanse wyn verkoop.
“Ons het die skakel met Kaapstad, as een van die toonaangewende name in internasionale toerisme, leefstyl en besigheid nodig. Innovasie is die pad vorentoe (om wyn teen duurder pryse te verkoop).”
Mnr. Duimpie Bayly, voorsitter van die Wyn- en Spiritusraad se Afbakeningskomitee, sê oorsese wynliefhebbers is vertroud met plekke soos Stellenbosch en Kaapstad, maar tot dusver was Wyn van Oorsprong Kaapstad vir nie die bedryf beskore nie.
Wingerdboukundige grense
Volgens hom het hulle die bemarkingspotensiaal oorweeg, maar ook op wetenskaplike wyse gaan kyk na die ooreenkomste tussen die wyke. Die Wyn van Oorsprong-wetgewing is reeds in 1973 ingestel en die Suid-Afrikaanse stelsel word as die beste ter wêreld beskou.
“Ons definieer nie volgens politieke of munisipale grense nie, maar wingerdboukundige grense. Mense wil weet waar hul wyn vandaan kom, veral oorsese wynliefhebbers.”
Hy het verduidelik wynareas word volgens geografiese eenhede (byvoorbeeld die Wes-Kaap of KwaZulu-Natal) afgebaken.
Daaronder val distrikte, waarvan daar nou 26 is, en dan ook wyke. “Ons probeer so wetenskaplik as moontlik wees en met nuwe tegnologie, soos GPS, kry ons dit baie goed reg. Die wyke in die nuwe distrik is soortgelyk en pas almal soos ’n legkaart inmekaar.”
Bayly sê daar is groot ooreenkomste in terroir. Die distrik se verste punte is 36 km van die Kaapstadse stadskern.