Die sterk rand en hoër insetkoste laat die wynbedryf tans behoorlik wipplank ry, hoewel laer wynproduksie verwag word.
Me. Su Birch, hoof uitvoerende beampte van Wines of South Africa (Wosa), sê die rand wat op sterk vlakke teenoor die dollar, pond en euro lê, veroorsaak “tawwe tye” vir die bedryf.
Die Britse mark
Suid-Afrika sukkel tans om die volumes wyn wat gewoonlik in Brittanje verkoop word, op ander markte te verkoop. “Ons kan nie meer Brittanje se prysvlakke van onder £5, veral £2,99 en £3,99 bereik en ‘n wins maak nie, want die rand is te sterk. Die probleem is egter nie uniek aan die Suid-Afrikaanse mark nie. Australië en Chili het dieselfde problem,” verduidelik Birch.
Wosa het wel nuwe markte betree om die bedryf se afhanklikheid van Brittanje dramaties te verminder, maar die volumes beskikbare wyn kan nie so maklik in die nuwe markte verkoop word nie.
Birch sê sowat 28 miljoen liter reeds verpakte wyn is in 2010 na Brittanje uitgevoer, met ‘n verdere 8 miljoen liter wat uitgevoer is om goedkoper in Brittanje verpak te word. Sowat 12 miljoen liter verpakte wyn is na ander lande uitgevoer.
Ooraanbod?
Volgens Birch word ‘n ooraanbod van sekere variëteite tans ervaar, hoewel dit nie op dieselfde skaal is as in Chili en Australië nie.
Op die korttermyn lê die grootste probleem glo by Sauvignon blanc, aangesien baie van dié wingerde nou begin dra terwyl die mark oorverhandel is op dié variëteit.
Verwagte oes
Intussen sê die Suid-Afrikaanse Suid-Afrikaanse Wynbedryfinligting en -stelsels (Sawis) volgens die jongste skatting gaan die huidige seisoen se oes op 1 308 683 ton druiwe te staan kom, met ‘n verwagte 1 010,2 miljoen liter se druiwesap - vir alkoholiese en nie-alkoholiese gebruik – wat in 2011 geproduseer sal word.
Dit kom neer op 772 liter wat per ton druiwe geproduseer word. Die oesskatting is egter 3,8% laer as die vorige skatting.
Volgens Sawis is ‘n daling in produksie in alle distrikte aangeteken. Dit word toegeskryf aan veral die vloedskade, kleiner en minder digte druiwetrosse, die hittegolf wat die Kaap tussen 4 en 7 Januarie getref het en beperkte besproeiing in droeë gebiede.
Birch meen die verlies wat druiweboere weens die vloede in die Noord-Kaap gely het, sal nie ‘n beduidende invloed op die ooraanbod van wyn hê nie, omdat die omstandighede van kultivar tot kultivar verskil. Dié boere dra tussen 3% en 4% tot die wynbedryf by.
11 Februarie 2011