
'n Ooreenkoms is pas gesluit tussen mnr. Wynand du Toit, 'n Suid-Afrikaanse boer in die Republiek van die Kongo, en John Deere Sub-Sahara-Afrika, om rys as proefaanplanting op sy plaas, Belle Terre, te verbou. Die projek, op 100 ha, bied ook 'n geleentheid aan Suid-Afrikaanse beleggers om betrokke te raak.
Volgens die ooreenkoms verskaf John Deere die meganisasie-toerusting, soos trekkers, werktuie en ander toerusting om die rys aan te plant. Die aanplantings sal ook as demonstrasie- en bemarkingsproewe dien vir rysverbouing in die Kongo. Die plaaslike department van landbou het die saad verskaf en Belle Terre bestuur die projek en verskaf al die produksiemiddele,soos kunsmis, chemikalieë, brandstof en arbeid.
Du Toit sê die mikpunt met die projek is om rysverbouing op kommersiële skaal te vestig. Inligtingsdae sal vir belangstellende kleinboere aangebied word. John Deere is reeds betrokke by rysprojekte in sewe ander Afrika-lande. Rys word op die oomblik nog net op baie klein skaal in die Kongo verbou.
Die mikpunt is om teen Januarie met grondvoorbereiding te begin en in Februarie te plant. Die oes behoort teen middel-Julie gereed te wees.
Du Toit sê geleenthede bestaan vir beleggers om by 'n meule en die verpakking betrokke te raak.
Belangstellendes kan hom kontak by wpjdt@gmail.com