Die wynbedryf voer sowat die helfte van sy produk na ander lande uit, maar slegs 13% van produsentekelders verkoop hul wyn aan die plaaslike mark.
Die grootste deel van produsentekelders se produksie word steeds vir die plaaslike mark, of vir uitvoer deur ’n plaaslike koper, gemaak. Die mededingende internasionale ekonomie en relatief sterk rand moet oorweeg word wanneer enige besluit oor uitvoer geneem word, is bevind in PricewaterhouseCoopers se opname wat insig in die wynbedryf bied.
Die opname oor die uitdagings in die bedryf en ook hoe wynbesighede (produsentekelders) in hierdie uitdagende tye staande bly, word elke jaar gedoen.
’n Klein oes verlede jaar en die hoër produksiekoste per liter wyn plaas net nóg meer finansiële druk op wynboere wat reeds sukkel om hul aanplantings geredelik te vervang.
Hoër primêre produksiekoste
Primêre produksiekoste het die gemiddelde inkomste per hektaar vir wit en rooi kultivars oorskry. Die laer opbrengs per hektaar verlede jaar, dra die grootste skuld daarvoor.
Wynmakers kon darem meer liters uit elke ton haal (776 liter). Dit het in ’n mate vergoed vir die laer tonnemaat wat geoes is.
“Minder tonne moes die bedryf se vaste koste verhaal en dit het aanleiding gegee tot hoër produksiekoste per liter. Gelukkig was daar die tweede agtereenvolgende jaar ’n styging in die gemiddelde reële verkoopsprys,” het mnr. Frans Weilbach, wynbedryfspesialisvennoot by PwC, gesê.
Rooi kultivars se prys het die eerste keer sedert 2006 deur R6 per liter gebreek. Geen verligting is egter aan die kostekant gesien nie en die resultaat is balansstate wat effens swakker vertoon. Arbeid, chemikalieë en finansieringskoste bly die grootste uitgawe-items op wynboere se finansiële state.
12 September 2011