Wynboere kan verwag dat hul vasbytvermoë nog minstens hierdie seisoen en 2013 tot die uiterste getoets gaan word.
Daarna kan hulle begin uitsien dat die wiel uiteindelik vir die sukkelende wynbedryf gaan draai, meen mnr. Rico Basson, uitvoerende direkteur by VinPro. Basson het op 1 Desember die stoel by VinPro ingeneem nadat hy byna 18 jaar in die bankwese gewerk het.
Sy vooruitsigte op kort termyn vir die wynbedryf is dat winsmarges onder druk gaan bly, maar daarna voorspel hy ’n opswaai in die bedryf. “Ek dink die volgende twee jaar gaan nog taai wees. Wynboere se grootste mark is in Europa.
"’n Groot deel van die heil van wyn en vrugte, maar wyn spesifiek, is in watter mate Suid- Afrika sy mark ekonomies gaan herstel,” het hy gesê.
Europese resessie
Die resessiespook wil Europa net nie los nie “Ons het dit ongelukkig nog nie reggekry om ’n verskuiwing te maak na die Ooste, Amerika en selfs Afrika nie. As ’n mens na die kwantum gaan kyk, is die groei in daardie markte nie genoeg om op te maak vir moontlike verliese nie,” meen Basson.
“Ek kan wyn nie vanjaar anders sien beweeg as sywaarts nie. As die wêreldekonomie egter terugkeer tot ’n groei van 3% tot 4% en Suid-Afrikaners doen hul markontwikkeling reg, gaan ons in sekere kategorieë te min wyn hê. Waar tekorte ontstaan, sal jy positiewe pryspuntbewegings hê.”
Basson verwag dinge sal oor drie tot vyf jaar begin beter gaan. Hy is nie oortuig die swakker rand gaan al die uitkoms bied wat boere nodig het nie.
Hoewel Basson geloof het in produsente se oorlewingsvermoë, meen hy ’n kleiner wynbedryf sal op kort termyn doeltreffender wees.
17 Januarie 2012