
Die wynbedryf gaan swaar sluk aan die hoër sondebelasting op wyn, vonkelwyn en brandewyn.
Mnr. Pravin Gordhan, Minister van FInansies, het tydens die Begrotingsrede afgekondig aksynsbelasting van 8,8% op wyn en vonkelwyn en 8,5% op spiritualieë sal voortaan geld. Altesaam 23 c aksynsbelasting sal op ’n bottel wyn (750 ml) gehef word. Vonkelwyn sal met 70 c per bottel belas word en die aksynsbelasting op gefortifiseerde wyn sal 26 c per bottel beloop.
“In ’n tyd van ekonomiese druk waarin kleinhandelpryse vir wyn met minder as inflasie toeneem, sal wynprodusente en kelders dit moeilik vind om hierdie stygings te absorbeer,” het mnr. Rico Basson, besturende direkteur van VinPro, gesê. Vinpro verteenwoordig sowat 3500 wynprodusente en kelders.
Opbrengs op beleggings in wynbedryf laer as 2%
Luidens ’n verklaring het die wynbedryf begrip vir die Regering se ekonomiese uitdagings, maar nét ’n derde van die bedryf boer tans teen finansieel volhoubare vlakke. Die opbrengs op beleggings in die wynbedryf is laer as 2%.
Volgens Basson het die bedryf nou beleggings, beleidsekerheid en ondersteuning met behuising, water, grond en marktoegang nodig om vooruit te gaan. “Ons doen ’n beroep op die Regering vir verantwoordelike beleidsraamwerk met gesamentlike, direkte ingrypings.”
Hy is bekommerd oor die omvang van onwettige handel en die sosio-ekonomiese impak wat alkoholmisbruik het. Sowat 97 000 ha is met wyndruiwe beplant. Die bedryf ongeveer 300 000 mense in diens.