
Sterk internasionale wynhandelsmerke is broodnodig om te help om wynboere se winsgewendheid te verhoog en hulle in die wynbedryf te hou.
Mnr. Richard Rushton, besturende direkteur van Distell, die grootste wynbesigheid in Suid-Afrika, sê hy is al te bewus van die "hopelose situasie" waarin Suid-Afrikaanse wynboere hulle bevind.
“Dit kan nie so voortduur nie,” het hy tydens VinPro se inligtingsdag in Kaapstad gesê.
Net ’n derde van Suid-Afrika se wynboere boer tans teen volhoubare vlakke. Die afgelope dekade het sowat 900 wynboere die bedryf verlaat.
Mnr. Michael Fridjhon, wynkommentator, het gewaarsku boere gaan ophou belangstel in druifboerdery as daar ander gewasse – soos sitrus, steenvrugte en bloubessies – is wat meer winsgewend is.
Rushton sê hy is bekommerd oor die hele wynbedryfswaardeketting se winsgewendheid en opbrengste. “Ek’s veral bekommerd oor diegene van wie Distell baie afhanklik is, die boere.”
Hoe gemaak met dié probleem?
Die oplossing, meen hy, lê in groot handelsmerke wat internasionaal kan opgang maak.
“Groter handelsmerke met prysbedingingsmag sal ons in staat stel om groter porsies van die waardeketting se sogenaamde winste na die boere toe deur te gee. Dis egter nie ’n maklike pad nie en tyd is nie aan ons kant nie.”
Hy glo die groter spelers in die bedryf het ’n verantwoordelikheid om groot en sterk handelsmerke te skep wat as ’n getuigskrif vir die hele bedryf oorsee kan dien.
“Niks sal ons as maatskappy meer plesier gee as vyf tot tien plaaslike handelsmerke op groot skaal ’n internasionale deurbraak maak nie en sterk posisies in die belangrike markte inneem nie. Dit hoef nie eens Distell-handelsmerke te wees nie.”
Volgens Rushton het die bedryf die afgelope twee dekades “fantastiese werk” gedoen om wyngehalte te verbeter en suksesverhale op te bou.
“Ons moet nou daardie handelsmerke op skaal kry. Daarvoor het ons uitstekende bemarkers en bemarkingsprogramme nodig wat die handelsmerke in meer markte relevant maak. Eerlikwaar, die hele bedryf moet sy bemarkingspeil lig en belê in wêreldklas bemarkingsvermoë.”