
Die landbou is nie ’n slegte plek om in te wees in Suid-Afrika nie. Tog is daar bekommernisse in die wynbedryf, het mnr. Pieter van Niekerk, ’n ekonoom by Vinpro, op ’n seminaar buite Stellenbosch gesê.
Risiko’s is hoog in die wynwingerdbedryf. Waar 2013 ’n uitstekende uitvoerjaar was, is vanjaar nie so goed nie. “Daar is 100 miljoen liter wyn wat nog nie verkoop is nie. Dit gáán verkoop, maar nie teen verlede jaar se pryse nie.”
In 2003 is 6 000 ha nuwe wyndruifwingerd aangeplant en in 2013 net 2 000 ha. “Daar is nou minder as 100 000 ha onder wyndruiwe.”
Sowat 60% van Suid-Afrikaanse wyn word in groot maat uitgevoer. Die prys daarvan het met R1/liter gedaal, want Spanje en Italië produseer ten volle en verkoop wyn goedkoper. Die wêreldproduksie van wyn toon ’n daling van 6%. In China en Amerika styg wynverbruik.
“Die werklikheid is dat Suid-Afrikaanse wynboere se inkomste in reële terme dieselfde is as tien jaar gelede, maar produksiekoste en inflasie styg en produsentepryse hou nie tred nie.” Produsente pas aan met hoër produksie per hektaar en tans moet R20 000/ha geoes word om wins te toon. Min produsente kry dit reg.
Arbeidskoste styg gedurig. “Tegnologie moet gebruik word, nie om arbeid uit te skakel nie, maar om arbeid meer produktief aan te wend,” meen Pieter. Dit is nie noodwendig goedkoper om ’n groot boerdery te bedryf nie – ’n punt word bereik waar ’n groot boerdery se skaalekonomie duurder is.
“Oes, prys en produksiekoste bly altyd die vernaamste dryfvere om wins te toon,” het hy gesê.