
Belangstellendes wat graag aan een van die wynbedryf se mees gesogte kompetisies wil deelneem, moet opskud met hul inskrywings vir vanjaar se Veritas-kompetisie. Goeie nuus vir deelnemers is dat die inskrywingsfooi vir die kompetisies nie verhoog word nie.
Kelders het tot 8 Augustus kans om hul mees gesaghebbende markklaarwyne en brandewyne vir die Veritas-kompetisie in te skryf.
“Die bekende Veritas-embleem is sinoniem met ’n hoogstaande gehalte en plaaslike sowel as internasionale wynverbruikers skoei dikwels hul aankoopbesluite op die teenwoordigheid van hierdie simbool op ’n bottel,” sê mnr. Charles Hopkins, nuutverkose voorsitter van die Suid-Afrikaanse Nasionale Wynskouvereniging (SANWSV). Die vereniging bied die kompetisie aan.
Die beoordeling vind van 3 tot 7 September plaas, en die wenners word op 6 Oktober vanjaar in Kaapstad aangekondig.
Meer inligting oor die kompetisies en inskrywingsvorms is by www.veritas.co.za beskikbaar.