Die Grondwethof het verlof aan ‘n wynmaker, mnr. Nicolas Krone, en sy maatskappy, Twee Jonge Gezellen - wat glo die Land Bank R37,9 miljoen skuld - toegestaan om sy saak aan te hoor.
Luidens ‘n berig op Fin24.com kan Krone en die Land Bank nou op 18 November hul mondelinge argument aan die hof voorhou.
Volgens die bank het Krone en die maatskappy ‘n kennisgewing van skuld van dié bedrag ten gunste van die bank onderteken.
Moes binne twee maande betaal wees
Gebaseer op die kennisgewing het die bank ‘n voorlopige opdrag in dié verband van die Kaapse Hooggeregshof ontvang. Volgens die opdrag moes die bedrag binne twee maande aan die bank betaal word.
Krone en sy maatskappy se argument by die Grondwethof is dat die regsproses rondom voorlopige hofopdragte ongrondwetlik is en dat die howe in die land se deure effektief daarvoor gesluit is.
Die opdrag weerhou Krone en die maatskappy van die reg om te bewys dat die bedrag eintlik R20 miljoen is. Dit kan nie bewys word nie, want die wet bepaal dat die volle bedrag van die voorlopige opdrag vereffen moet word voordat die saak kan voortgaan.
Nie Krone of die maatskappy kan glo bekostig om die bedrag te betaal nie.
8 September 2010