
Mnr. Louis Strydom van Ernie Els Wyne het die fakkel as voorsitter van die Kaapse Wynmakersgilde by mnr. Johan Malan van Simonsig oorgeneem.
“Dit is ‘n groot eer om as voorsitter verkies te word. Ek sien uit na die nuwe uitdagings wat ‘n voortdurend veranderende organisasie in my twee jaar as voorsitter gaan bied,” sê Strydom.
Hy gaan ook voort met sy betrokkenheid by die Gilde se Protégé-program en ontwikkelingstrust.
Mnre. David Finlayson van Edgebaston en Andries Burger van Paul Cluver is nuwelinge op die bestuurskomitee. Mnr. Duncan Savage van Cape Point Vineyard is die nuwe keldermeester en mnr. Bernhard Veller van Nitida sal nog ‘n termyn as tesourier dien.
Die Kaapse Wynmakersgilde is 28 jaar gelede deur agt onafhanklike wynmakers op die been gebring. Hul visie was om Suid-Afrika se wynmakers te vestig onder die bestes ter wêreld en om ‘n wynmaakstandaard te stel wat as standaard vir die plaaslike sowel as internasionale bedryf kan dien.
Altesaam 41 van Suid-Afrika se mees gerespekteerde wynmakers behoort tans aan die gilde. Uitnodiging vir lidmaatskap geskied ná ‘n wynmaker minstens vyf jaar lank uitstekende wyne gemaak het en steeds daarmee volhou.
9 Desember 2010