Tulbagh se oudste familiewynplaas kan finansiële nood ervaar ’n vanweë ’n uitspraak van die Grondwethof waarin bevind is dat skuld van R37 miljoen aan die Land Bank betaal moet word.
Die Grondwethof het Twee Jonge Gezellen en sy eienaar, mnr. Nicky Krone, se aansoek om appèl teen ’n vorige Hooggeregshof-uitspraak op 22 Februarie verwerp.
In sy verweer het Krone aan die Grondwethof gesê dat hulle nie die skuld kan betaal nie. In 2003 het Land Bank die wynplaas gedagvaar om sy skuld van meer as R39 miljoen te betaal.
Nie genoeg betaal
Krone het die bank se aansoek aanvanklik teëgestaan, maar het later skuld erken en ingestem om die skuld oor ’n bepaalde tydperk te betaal, sê mnr. Musa Mchunu, woordvoerder van die bank.
Die wynplaas het egter net ’n deel van die skuld terugbetaal en gevolglik is daar weer swaarde gekruis. Die Land Bank het die saak, wat in die Hooggeregshof geëindig het, gewen.
Daarna het die wynplaas die saak Grondwethof toe geneem. Die verweer was dat die uitspraak ongrondwetlik is, omdat regsprosedures hulle gedwing het om die vorige hofuitspraak te eerbiedig (en R39 miljoen te betaal) voordat hulle met ’n volgende hofsaak kon voortgaan.
Die “volgende hofsaak” verwys na ’n saak waarin Krone die bedrag wat aan Land Bank geskuld word, in twyfel trek. Die Grondwethof het die aansoek egter verwerp omdat Twee Jonge Gezellen nie bo redelike twyfel kon bewys dat hy wel dié hofsaak (oor skuldberekening) sou wen nie.
Die voorlopige uitspraak van die Grondwethof is beskikbaar vir enige skuldeiser wat geldige dokumentêre bewyse het dat die wynplaas hom of haar geld skuld.
Landbou.com kon Krone nie betyds vir verdere kommentaar opspoor nie. Lees Landbouweekblad vir meer besonderhede.
9 Maart 2011