’n Verwoestende brand wat huise en ’n hotel in Somerset-Wes in puin gelê het, het ook spogwynplase naby Stellenbosch bedreig. Honderde brandbestryders moes dae lank spook om die vuur in bedwang te bring.
Die brand, wat Saterdag in Somerset-Wes uitgebreek het, is die aand deur ’n sterk oostewind om die Helderberg in die rigting van Stellenbosch gedryf. Dit is eers vanoggend vroeg onder beheer gekry.
Uva Mira en Ernie Els-wyne, al twee op die Annandale-pad, moes gister hul deure vir die publiek sluit sodat alle beskikbare hande by die brand, wat alles in sy pad verteer het, kon uithelp. Bilton-wyne, Alto, Cordoba en Nooitgedacht het ook deurgeloop.
Teen gisteraand het eienaars van buurplase duim vasgehou die wind tel nie weer op en veroorsaak moeilikheid oor ’n groter gebied nie.
Wanneer mnr. Matthew van Heerden, wynmaker en wingerdboukundige by Uva Mira, gesels kug hy voortdurend weens die rookinaseming wat hy sedert Saterdag moes verduur.
“Ons kon darem keer dat die brand die geboue bereik, en kon die wingerde red. Ongelukkig het ons 10 ha tot 15 ha proteas en fynbos wat vir die uitvoermark bestem is, verloor.”
Hy sê vir die blomme wat wild geoes word, is die brand nie ’n probleem nie. Steggies op die plaas word egter elke paar jaar oorgeplant, en daarom is die verlies weens die brand baie groot. Die blomme word na Japan en Europa uitgevoer.
“Ek is so uitgeput, ek kon nog nie ’n som maak oor wat die skade beloop nie, maar dit kan maklik ’n paar miljoen rand wees.”
Drinkwaterstelsels, kabels en selfs tuine het onder die vlamme deurgeloop.
Mnr. Louis Strydom, bestuurder van Ernie Els-wyne, sê die afgelope paar dae was gekenmerk deur min slaaptyd.
“Ons het nie brandskade aan die wingerd nie, maar dit kan wees dat hitteskade die ogies seergemaak het. Dit kan volgende jaar se oes be-invloed.”
By Bilton-wyne het sowat 100 ha bloekom- en dennebome in die vlamme opgegaan. Hulle het ook sowat 29 ha fynbos en proteas verloor. Dit is ’n terugslag, aangesien die plaas deel is van die Biodiversiteit-en-wyn-inisiatief.
“Ons grootste bekommernis is dat erosie kan voorkom as daar baie reën in die volgende paar maande val,” sê mnr. Johann Diedericks, hoofbestuurder van Bilton.
Van Heerden trou die komende naweek in Namibië, en die brand het sy planne om soontoe te gaan met minstens ’n dag in die wiele gery.
“Ek het vir my aanstaande vrou gesê as sy met ’n boer wil trou, moet sy onthou sulke dinge kom saam met die territory!” spot hy.
19 April 2011