
Die Suid-Afrikaanse wynbedryf herstel steeds van verskeie onverwagte struikelblokke weens die covid-19-pandemie. Daarby is pas bekend gemaak dat wyne wat na Brittanje uitgevoer word en meer as 11,5% alkohol bevat, oor sowat ’n jaar swaarder belas sal word as wyne wat minder alkohol bevat.
Die veranderinge aan die belastingstelsel volg op Brittanje se uittrede uit die eurosone, die sogenoemde Brexit.
Me. Maryna Calow, kommunikasiebestuurder van die handelsorganisasie Wines of South Africa (Wosa), het tydens ’n onderhoud met Moneyweb gesê aangesien Suid-Afrika ’n warmer klimaat het, produseer die druiwe meer suikers en gevolglik meer alkohol as dit gefermenteer word.
Die belasting sal uiteindelik by die verbruiker verhaal word – dit terwyl verbruikers tans baie prysgevoelig is. Sy is egter hoopvol dat Suid-Afrikaanse wyne, waarvan die uitvoerwaarde in 2021 sowat 21% meer na Brittanje beloop het, hul gewildheid sal behou.
“Ons voer 92 miljoen liter wyn na Brittanje uit. Dit is ’n baie groot en belangrike mark vir ons. Ek meen verbruikers is bekend met Suid-Afrikaanse wyne, hulle geniet ons wyne en hulle begin ook die waarde van die goeie wyne wat ons bied, verstaan. Dit kan ons potensieel hierdeur dra.”
Me. Wanda Augustyn, Vinpro-woordvoerder, sê die wynbedryf en sy bedryfsvennoot, die Suid-Afrikaanse drankhandelsmerkvereniging (Salba), verwelkom die Britse regering se pogings om die belastingstelsel te vereenvoudig en om die algehele aksynslas op ’n bedryf wat miljoene werkgeleenthede ondersteun en tot ekonomiese groei reg oor die wêreld bydra, te verminder.
“Ons steun die idee dat aksyns doeltreffender gebruik kan word as ’n aansporing om verantwoordelike verbruik te bevorder. Die regering se pogings in hierdie verband om innovasie aan te spoor, word verwelkom en behoort wye steun te geniet.
“Ons is egter baie bekommerd oor sommige van die onbedoelde gevolge van die prysstrukture vir wyn in die 8,5%-22% A/V-kategorie. Die voorgestelde tarief vir alle alkoholprodukte plaas wyn nadelig in vergelyking met ander produkte. Vinpro en Salba het wel wysigings aan die aksynsstruktuur aanbeveel.”