
Isuzu het sy gewilde KB 250 Hi-Rider 4X2 ingespan om aanvanklik slegs 700 spesiale X-Riders te bou. Die X-Rider se hoë verrigting 2.5 liter turbo-dieselenjin lewer 110 kW drywing en 320 Nm se wringkrag.
Dié spesiale model word maklik uitgeken aan die diamantsnit 18 duim-allooiwielvellings, die swart stamperskerm met geïntegreerde misligte, kantskermstawe en ’n swart B-pilaar. Lae profiel 255/50 Grabber AT (veelterrein)-buitebande word gebruik.
Binne-in die kajuit is leer kwistig gebruik vir die bekleedsel, die stuurwiel en die rathefboom se kous. Klavierswart-afwerking sorg vir netjiese en opvallende kontras in die gerieflike kajuit. Behalwe vir hierdie meer kosmetiese toevoegings spog die nuweling ook met ’n stewige sleepstang om die makismum toegelate 2.1 ton geremde sleepwa met vrag baas te raak.
Alle Isuzu KB-modelle word verkoop met ’n omvattende waarborg en padbystandsdiens vir 5 jaar of 120 000 km, ’n waarborg teen roes vir 5 jaar met ’n onbeperkte km-afstand èn ’n diensplan vir 5 jaar of 90 000 km. Die pryse strek van die KB 250 Base-enkelkajuit se R236 500 tot by die KB 300 4X4-dubbelkajuit LX (outo) wat jou R550 100 uit die sak sal jaag.