
’n Aanleg wat vloeibare kunsmis lewer en boere in ’n radius van 300 km sal bedien, is op Malmesbury deur Yara bekend gestel. Dié aanleg verteenwoordig ’n belegging van R30 miljoen en weerspieël die maatskappy se vertroue in Wes-Kaapse boere.
“Die Wes-Kaap is die belangrikste landboustreek in Suid-Afrika. Dit is daarom belangrik vir Yara om te midde van sulke kundige boere te werk,” het mnr. Terje Knutsen, uitvoerende vise-president van oesbemesting by Yara Internasionaal, met die opening gesê. Knutsen het die uitvoervolumes van Wes-Kaapse boere as indrukwekkend beskryf.
Bouwerk is in Oktober 2015 begin en is op tyd en binne begroting voltooi. Die aanleg, wat kunsmis aan graan-, groente- en vrugteboere sal verskaf, se produksiekapasiteit is sowat 375 ton elke 12 uur. Yara bied gewasspesifieke produkte aan boere, wat ontwikkel is vir spesifieke grond- en gewasbehoeftes.
Omgewingsvriendelik
As deel van die omgewingsvriendelike vereistes is twee watertenks langs die aanleg gebou. Sowat 350 000 liter reënwater kan daarin opgevang word.
Die belangrikheid van goeie waterbestuur is deurlopend beklemtoon.
“Klimaatsverandering het wêreldwyd ’n groot impak. In Suid-Afrika word die gevolge daarvan ervaar in die vorm van droogte en veranderende weerpatrone. In die Wes-Kaap word die druk van omvangryke stres op waterbronne ervaar,” het mnr. Pieter Brink, bestuurder van landboukundige dienste en navorsing by Yara Cape, gesê.
Brink het die doeltreffendheid van vloeibare kunsmis met gewasproduksie onder besproeiing en op droëland as ’n voordeel vir waterbesparing uitgewys.
Byskrif: Van links is mnre. Ig Ferreira, algemene bestuurder van Yara Cape, Terje Knutsen, uitvoerende vise-president van gewasvoeding by Yara Internasionaal, Herman Saayman, produksiebestuurder by Yara Cape, en Luis Afredo Perez, uitvoerende hoof van Yara Afrika. Foto: Corli van der Merwe