
Verteenwoordigers van die JSE Sekuriteitebeurs en die Zambiese kommoditeitsbeurs ZAMACE het onlangs met ander rolspelers vergader vir laaste voorbereidings rondom die beoogde graankontrake.
Mnr. Chris Sturgess, direkteur van die JSE Sekuriteitebeurs se mark vir afgeleide instrumente, sê een van die groot bekommernisse is dat die Zambiese regering op kort kennisgewing grense kan oop- of toemaak.
Volgens hom behoort die regering meer gestruktureerde beleidsrigtings vir die verskuiwing van graan op streekvlak in te stel. “Vir markte om doeltreffender te werk, is voorspelbare beleidsrigtings nodig. Die likiditeit van die kontrakte sal die sleutelsuksesfaktor wees. Dit sal ongetwyfeld makliker wees as ons deelnemers in die streek kan insluit om op streeksverskansing te kan staatmaak,” sê Sturgess.
Duideliker raamwerk
Die regering sou byvoorbeeld volgens hom kon besluit om 'n voorraad-veiligheidsnet van 500 000 ton mielies vas te stel. Dit kan voorraad in die private sektor óf reserwe-agentskappe wees. Indien voorraad dan laer daal, word geen uitvoerpermitte uitgereik nie. Só 'n beleid sal vir die mark 'n duideliker raamwerk bied waarbinne hy kan werk.
Sturgess sê die voorbereiding van die kontrakte is nou in die finale stadium en Zambiese kliënte, asook Suid-Afrikaanse korporatiewe deelnemers, goedgekeur deur die Suid-Afrikaanse Reserwebank, moet so gou moontlik deel word sodat die proses kan begin om gewillige verkopers en kopers bymekaar te bring.
Die kontrakte sal in Amerikaanse dollar verhandel word en een kontrak sal 10 ton (of 20 sakke van 50 kg elk) behels. Middelmanne sal kleiner hoeveelhede by kleinskaalse boere kan koop en dit bymekaar voeg om 10 ton te kan hê.
Sturgess sê Zambië kan die streekspilpunt vir die vasstelling van markpryse en prysrisikobestuur van nie-GM gewasse wees.