
Zeder, die genoteerde beleggingsmaatskappy en belegger in die agri-sakesektor, het in die ses maande tot Augustus 2014 stewige resultate behaal met die onderliggende beleggings wat met 32% tot R6,93 per aandeel gestyg het.
Dit is volgens die “som-van-die-dele”-waarde (SVDD) per aandeel, wat bereken word deur die gekwoteerde markpryse van alle JSE-genoteerde beleggings (ingesluit die deursigtige markprys van Agri Voedsel se belegging in Pioneer Foods) en markverwante evaluasies van ongenoteerde en genoteerde beleggings in ag te neem.
Zeder se SVDD-waarde per aandeel, soos op 2 Oktober 2014, het tot R7,15 gestyg. Dit is bereken op die grondslag dat die onlangse Agri Voedsel-transaksie reeds geïmplementeer is en die netto waarde van onderliggende beleggings die vlak van R10,3 miljard bereik het.
Die herhalende wesensverdienste per aandeel het met 78% tot 16,4c (2013: 9,2c) gestyg en die wesensverdienste per aandeel met 116% tot 16,0c (2013: 7,4c). Dit is Zeder se beleid om slegs 'n finale dividend met jaareinde te betaal.
Mnr. Norman Celliers, uitvoerende hoof van Zeder, het gesê dat die resultate as uiters bevredigend beskou word.
Van belang gedurende die tydperk onder oorsig was Zeder se aanbod om al die aandele in Agri Voedsel te verkry wat nie reeds deur die maatskappy gehou is nie. Hiervolgens is Agri Voedsel-aandeelhouers Zeder-aandele in ruil daarvoor aangebied. Die transaksie het meer as R2,5 miljard bedra.
“Agri Voedsel is 'n ongenoteerde belegging-houermaatskappy met sy enigste belegging 'n ekonomiese belang van 30% in Pioneer Foods. Laasgenoemde bly Zeder se groot strategiese belegging en verteenwoordig meer as 65% van sy portefeulje ná die implementering van die voorgenoemde Agri Voedsel-transaksie.
Die ander beleggings in Zeder se portefeulje het voortgegaan om bevredigende resultate te lewer met Kaap Agri, 'n ongenoteerde kleinhandel, handel- en dienste-groep, wat in die ses maande tot Maart 2014 sy wesensverdienste met 19% vermeerder het.
Capespan, 'n ongenoteerde vrugte en logistieke groep, het sy stewige vertoning volgehou met 'n styging van 234% in herhalende wesensverdienste per aandeel in die ses maande tot Junie 2014.
Zaad, die houermaatskappy van Agricol en Klein Karoo Saad Bemarking waarin Zeder 'n belang van 92% hou, het bevredigende resultate vir die ses maande tot Augustus 2014 behaal deur sy herhalende wesensverdienste per aandeel met 14% te verhoog.
Chayton Africa, met grootskaalse kommersiële boerdery en meulbedrywighede in Zambië, is nog in 'n ontwikkelingsfase. Die maatskappy se operasionele prestasie is nietemin bemoedigend. Zeder bly optimisties oor hierdie belegging, aangesien die vraag na primêre voedsel in sub-Sahara Afrika groot en volhoubaar voorkom.
“Zeder bly aktief by sy bestaande beleggings betrokke, terwyl daar ook voortdurend na nuwe geleenthede buite sy huidige portefeulje gekyk word. Ons glo steeds dat die agri-sakesektor lonende beleggingsgeleenthede sowel plaaslik as oorsee bied,” het Celliers gesê.