
Zeder Beleggings het onlangs 'n voorwaardelike aanbod aan aandeelhouers van Agri Voedsel gemaak om dié maatskappy ten volle oor te neem.
Indien die transaksie deur aandeelhouers van Agri Voedsel én Zeder goedgekeur word, sal aandeelhouers van Agri Voedsel nié kontant ontvang vir hul aandele nie, maar aandele in Zeder.
Volgens 'n aankondiging op die JSE se nuusdiens, Sens, sal aandeelhouers 16,2 aandele in Zeder, wat op die JSE genoteer is, kry vir elke aandeel wat hulle in Agri Voedsel besit.
Agri Voedsel is 'n ongenoteerde maatskappy met 'n belang van 30% in die Pioneer Voedselgroep. Zeder besit reeds 46,8% van die aandele in Agri Voedsel.
Die aandeelhouers van Zeder en Agri Voedsel moet die transaksie goedkeur, maar Zeder het op Sens aangedui dat "verskeie Agri Voedsel- en Zeder-aandeelhouers" hulle reeds daartoe verbind het om ten gunste van die transaksie te stem of dit te aanvaar. Teen druktyd was Zeder se aandeelprys 532c per aandeel, die hoogste nog.
Bykomende bron: http://www.zeder.co.za