
Zeder Investments het in ’n Sens-verklaring op die JSE-nuusdiens gesê sy direksie het besluit om die maatskappy se aandeelhouding van 31 286 956 aandele in Kaap Agri, wat sowat 42,2% van die totale uitgereikte aandelekapitaal van Kaap Agri is, te ontbondel.
Die verhouding sal 1 Kaap Agri-aandeel vir elke 49,22692 Zeder-aandele wees. Aandeelhouers sal daarna ’n direkte belang in Kaap Agri hê, pleks van indirek deur Zeder.
Die ontbondeling sal na verwagting in die eerste helfte van April plaasvind.
Zeder verwys in sy verklaring na ’n vorige omsigtigheidsaankondiging op 14 April 2021 dat die maatskappy verskeie toenaderings van derde partye gehad het wat belang stel om van Zeder se portefeuljebeleggings te bekom. Een hiervan het gelei tot die verkoop van sy aandeelhouding in The Logistics Group.
Zeder sê die toenaderings is ongelukkig nie eenvoudig nie. Selfs as dit uiteindelik aanvaar sou word, sal dit waarskynlik langer duur om af te handel as wat oorspronklik verwag is.
Mnr. Anthony Clark, ontleder van onder meer voedselprodusente en landboumaatskappye, verwelkom die aankondiging oor die ontbondeling in sy publikasie @SmallTalkDaily Research en sê dat hy sedert September 2020 hiervoor vra.
Met die ontbondeling sal PSG Groep, wat met ’n belang van 48,6% die grootste aandeelhouer in Zeder is, ’n regstreekse belang van 20,5% in Kaap Agri verkry, wat volgens Clark teen die huidige aandeelprys R778,5 miljoen werd is.
Clark sê die vraag is nou wat PSG Groep met sy belang in Kaap Agri gaan doen. “Kaap (Agri) is ’n gesonde dividendbetaler en het stewige vooruitsigte.” As deel van die PSG-portefeulje sal dit aan PSG ’n deurlopende dividendbron gee en die aandeel bly volgens Clark ondergewaardeer.
Hy sê as ontleder wat al die langste na Kaap Agri kyk en self ook al ’n dekade lank ’n aandeelhouer is, is hy bly dat die maatskappy nou oor sy eie lot kan besluit “en ten volle op sy voete kan staan sonder dat Oupa oor sy skouer loer”.
PSG het intussen op 1 Maart bekend gemaak dat hy beoog om die groep te herstruktureer om waarde te ontsluit, wat sal behels dat die groep sy aandeelhouding in maatskappye, Kaap Agri ingesluit, sal ontbondel en dat PSG uiteindelik sal denoteer.
Kaap Agri het in ’n Sens-verklaring gesê die verandering in sy aandeelhoudingstruktuur weens die Zeder-ontbondeling en daarna die PSG Groep se herstrukturering sal nie sy sakemodel, bedrywighede of strategiese rigting raak nie en die bestuur bly toegewyd tot die verwesenliking van die maatskappy se strategie en groeipotensiaal.
Kaap Agri is luidens die verklaring goed gekapitaliseer en aandeelhouers behoort voordeel te trek uit die bykomende likiditeit waartoe die Zeder-ontbondeling waarskynlik sal lei.