
Zeder Beleggings, ’n genoteerde maatskappy wat in landbou-ondernemings belê, se aandeelprys het die laaste paar maande skerp gestyg. In Januarie verlede jaar was die prys nog R4,40. Teen 12 Januarie vanjaar het dit in ’n stadium by R7,80 gaan draai. Op 13 Januarie was dit R7,57.
Dié maatskappy het verlede jaar sy strategie verander. Die aantal maatskappye in sy portefeulje is verminder, maar die aandeelhouding in die oorblywende maatskappye is verhoog. Hy wil op dié manier ook ’n meer aktiewe rol in die maatskappye speel.
Volgens die jongste inligting lyk Zeder se portefeulje só: Agri Voedsel (100%), Capespan Groep Bpk. (72,1%), Capevin Holdings (2,7%), Chayton Africa (76,7%), Kaap Agri (39,9%), Pioneer Foods (1,1%) en Zaad Holdings (92%). Die maatskappy het van sy aandele in Overberg Agri en Suidwes ontslae geraak en ’n groot deel van sy aandele in Capevin Holdings verkoop.
Volgens die maatskappy se resultate vir die halfjaar wat op 31 Augustus 2014 geëindig het, was die waarde van sy belegging in die maatskappye net meer as R10,3 miljard. Die openbare beleggingskorporasie PIC het in Desember sy belang in Zeder tot 5,484% opgeskuif.
Die PIC is ’n finansiële diensverskaffer in die Regering se besit. Die PIC belê geld namens openbare sektor-entiteite, soos die pensioenfonds vir regeringsamptenare. Mnr. Norman Celliers, uitvoerende hoof van Zeder, kon nie vir kommentaar bereik word nie. – AMELIA GENIS