
Jackson is twee maande gelede deur 'n plaaslike grondkommissaris ingelig dat hy sy plaas, Bonnyvale, buite Gweru in Zimbabwe moes ontruim.
'n Maand voor die finale datum van ontruiming het Jackson egter 'n boodskap van 'n amptenaar in pres. Robert Mugabe se kantoor gekry dat hy op die plaas mag aanbly.
Dié boer het destyds opslae gemaak oor die kalm manier waarmee hy op die uitsettingsbevel gereageer het. Hy het gesê dat hy nie sou terugveg nie, maar die saak in God se hande sou los.
Verblyfreg
Jackson en sy vrou, Mandy, is in Zimbabwe gebore en het vaste verblyfreg in die land. Mandy is 'n direkteur van 'n private skool, die Midlands-Christenkollege.
Volgens Jackson het hy slegs 'n gesprek met die ongeïdentifiseerde man gehad en het hy niks op skrif wat sê dat hy op die plaas mag bly nie.
Hy sê daar was egter ook nooit iets op skrif dat hy die plaas moes verlaat nie en derhalwe boer hy nou weer voluit op die plaas wat hy al meer as tien jaar besit.
Bron: Volksblad