
Die 78-jarige mnr. Mike Campbell wat regsgeskiedenis gemaak het toe hy pres. Robert Mugabe suksesvol by die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap (SAOG) se tribunaal verkla het, is gister in Harare oorlede.
Sy familie sê in ’n verklaring hy het nooit regtig herstel van die wrede aanranding in 2008 deur plaasbesetters op hom, sy vrou Angela en sy skoonseun Ben Freeth nie.
Campbell het ernstige kopbeserings opgedoen wat tot breinskade gelei het, van sy ribbes was gebreek en hy het beserings aan sy ledemate gehad.
Freeth is ’n tyd gelede deur Koningin Elizabeth by die Buckingham-paleis in Brittanje vereer met die Orde van die Britse Ryk (MBE) vir “sy dienste aan die landbougemeenskap in Zimbabwe” saam met sy skoonpa.
Hulle het die aansoek in Windhoek teen die grondvergrype begin, waarby 77 ander kommersiële boere hulle ook aangesluit het.
In die jongste verwikkeling in dié saak het Campbell en ’n swart kommersiële boer, mnr. Luke Tembani, verlede maand ’n aansoek gebring teen die SAOG se staatshoofde dat die tribunaal sy werksaamhede moet hervat.
Die SAOG-leiersberaad het die tribunaal vroeër opgeskort om eers sy funksies, werksaamhede en mandaat te laat hersien. Die tribunaal het in 2008 beslis dat die Zimbabwiese regering se grondhervormingsprogram onwettig en rassisties is en dat boere hul plase moet terugkry of daarvoor vergoed word.
Die Zimbabwiese regering het hom egter nie aan die uitspraak gesteur nie.
Verlede jaar is die Campbells se plaashuise afgebrand en het hulle tydelik na Harare verhuis. ’n Dokumentêre rolprent, Mugabe and the White African, is oor hul stryd gemaak en wêreldwyd vertoon.
“Die waarde van wat Mike en sy gesin gedoen het om ’n internasionale presedent oor eiendomsreg en die regte van wit Afrikane te skep, sal waarskynlik eers in toekomstige jare werklik besef word wanneer Zimbabwe weer ’n regering het wat die reg en menseregte sal respekteer,” sê mnr. Deon Theron, voorsitter van Zimbabwe se kommersiële landbou-unie (CFU).
7 April 2011