Die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap (SAOG) se leiers het besluit dié organisasie het nog ses maande nodig om die SAOG-tribunaal se beslissing rondom Zimbabwe se omstrede grondhervormingsprogram te hersien.
Dié beslissing is in 2008 gemaak en het bevind dat die Zimbabwiese regering se onteiening van 78 wit boere se plase in dié land onwettig is. Dié beslissing is herhaaldelik deur pres. Robert Mugabe en sy regering geminag, luidens ‘n berig op Voanews.com.
Mnr. Kgalema Motlhanthe, vise-president van Suid-Afrika, het tydens die SAOG se onlangse beraad in Windhoek, Namibië gesê hy hoop dat daar in die komende ses maande ‘n “vriendelike” oplossing vir die probleem gevind sal word, maar het nie uitgebrei oor moontlike aksie wat die SAOG sal neem indien dít nie gebeur nie, luidens Reuters.
Volgens mnr. John Worsely-Worswick, hoof uitvoerende beampte van die Justice for Agriculture Trust (Jag), sal dit onmoontlik wees vir omstandighede om terug te keer na wat dit was voor die aanvang van grondonteienings in 2000, selfs al besluit SAOG-leiers om die beslissing te af te dwing.
Volgens Voanews.com is sowat 4 000 kommersiële plase in wit besit sedert 2000 onteien en het dié beleid Zimbabwe se ekonomie ‘n nekslag toegedien. Mugabe het egter onlangs by sy skoonbroer se begrafnis weer voorgeneem om grondgrype vol te hou.
Mugabe kap na swart boere
Intussen berig Afrik-news.com Mugabe meen swart Zimbabwiese boere wat deur die onteieningsproses bevoordeel is kom nie die mas op nie. “Terwyl ons die 100 jaar van uitstekende uitstallings in ons dertigste jaar van onafhanklikheid vier, moet ons onsself vra of ons die gehalte boere geproduseer het wat ons wil hê,” het Mugabe by die Zimbabwiese landbouskou gesê.
Hy het ook gedreig om grond in dié swart boere se besit te onteien as hulle dit aan wit boere uithuur. Hy meen dié grond moet eerder aan die staat teruggegee word.
2 September 2010