
Andrew
Ndlovu, die Zimbabwiër wat homself Andrea Imbayarwo noem, is vandag in die
rondgaande hooggeregshof in Polokwane skuldig bevind op aanklagte van moord en
verkragting van die 59-jarige Britse burger me. Christine Robinson agt
jaar gelede op ’n wildsplaas in die distrik Northam, Limpopo.
Robinson se liggaam is op 30 Julie 2014 in haar huis op die wildsplaas Rara-Ditau gevind. Ndlovu het volgens getuienis vir haar op die plaas gewerk.
Tydens sy verhoor het Ndlovu beweer dat hy in ’n verhouding met Robinson, ’n oudonderwyseres, was. Hy het skuld op albei klagte ontken.
Ndlovu is ’n Zimbabwiese burger. Hy het ná die aanval op Robinson na Zimbabwe gevlug, maar hy het etlike male na Suid-Afrika teruggekeer onder verskeie vervalste identiteite.
Hy is op 30 Julie 2020 in Johannesburg in hegtenis geneem danksy goeie samewerking tussen die polisie en die private misdaadondersoeker oud-kol. Gawie Louwrens.
Ndlovu sal Donderdag gevonnis word.