’n Lening van sowat $300 miljoen (sowat R2,4 miljard) wat Brasilië vir landboufinansiering aan Zimbabwe toegestaan het, gaan vir boere gebruik word.
Luidens ’n berig op Reuters.com is die lening toegestaan om dié land se gebrekkige voedselvoorrade van die afgelope paar jaar aan te vul.
Die lening vorm deel van Brasilië se ondersteuningsprogram vir Afrika.
Mnr. Joseph Made, Zimbabwe se minister van landbou, sê dié geld sal aangewend word om boere te help wat nie lenings van banke kon kry in ’n poging om ná die ekonomiese krisis te herstel nie.
“Die . . . program is belangrik vir die land omdat dit reeds van die uitdagings opgelos het wat ons gehad het om krediet te kry vir die landbousektor, wat die ruggraat van ons ekonomie is.”
Krisis
Zimbabwe sukkel sedert 2000 om homself te voed ná pres. Robert Mugabe se grondhervormingsplan om plase op te eis, ingestel is.
Sedert die instelling van ’n eenheidsregering in 2008 het die bedryf reeds verbetering getoon. Volgens die Zimbabwiese regering sal die bedryf vanjaar met sowat 33% groei.
Mielieproduksie het van 400 000 ton in 2008 tot 1,45 miljoen ton vanjaar gestyg. Dit is egter steeds nie genoeg vir die land se vraag van sowat twee miljoen ton nie.
Bron: Reuters
27 Oktober 2011