Die Zimbabwese regering is vasbeslote om nie die produksie van geneties gemodifiseerde organismes toe te laat nie.
Luidens ’n berig op Bernama.com sê dr. Joseph Made, die land se minister van landbou-meganisasie en besproeiingsontwikkeling, die land sal eerder kunsmis, saad en besproeiing aan boere beskikbaar stel om voedselproduksie te stimuleer.
Made sê hulle sal nie goedkoper, maar nie-volhoubare produkte gebruik nie. “Wetenskaplike navorsing wys dat GMO’s toksiese materiaal bevat, minder voedingswaarde as nie-GMO’s het en ’n skadelike uitwerking op mense en die omgewing het.”
Kommer
Sy uitspraak kom te midde van al hoe versoeke om die land se grense vir GMO’s oop te stel. Boere is bekommerd oor die gebrek aan beskikbare krediet vir hulle en ondersteuning aan die landbou, wat die erns van dié versoeke laat toeneem.
Made sê die toelating van GMO’s in Zimbabwe sal die land se ekonomie benadeel, aangesien baie van sy uitvoermarkte nié GMO’s toelaat nie. “Die mense wat ten gunste van GMO’s is, het geen wetenskaplike agtergrond nie en derhalwe weet hulle nie wat die impak van GMO’s op die omgewing is nie.”
In teenstelling met Made se stellings sê prof. Heneri Dzinotyiwei, Zimbabwe se minister vir wetenskap en tegnologie, die land moet sy beleid oor GMO’s hersien en dit in die land toelaat.
Bron: Bernama
11 Januarie 2012