Die direkteur-generaal van landbou, mnr. Langa Zita, was verstom om by boere te hoor hulle steier onder elektrisiteitskoste en hulle sukkel om toegang tot lenings te kry. Volgens hom dra bedryfsleiers nie hierdie inligting aan hom oor nie.
Zita het ’n lang lys uitdagings waarmee boere worstel, neergeskryf en onderneem om teen Mei terugvoering aan die boere te gee oor wat die Regering kan doen om te help. Dit sluit in grondhervorming, Land Bank-lenings en die hoë elektrisiteit- en brandstofkoste.
Vergader
Hy het Dinsdag (13 Maart) met sowat 15 Wes-Kaapse boere op Somerset-Wes vergader. “Ek is baie gelukkig oor hierdie platform en die geleentheid om met régte boere te gesels. Die forum het my regstreekse kontak met boere gegee.”
Die vergadering het gevolg nadat ’n besproeiingsboer van Swellendam, mnr. James O’ Kennedy, met Zita in verbinding getree het. O’Kennedy was veral gefrustreerd oor elektrisiteitskoste. Hy voel ook die Suid-Afrikaanse boer het beheer oor sy produk verloor.
“Ons is gefrustreer dat dinge nie gebeur nie. Ek, ’n eenvoudige boer, het nou vir die tweede keer in ’n maand met Zita vergader. Hoekom kan die leiers van die groot landbou-organisasies dit nie regkry nie?” wil O’Kennedy weet.
Zita sê hy kry ’n baie duideliker prentjie as hy met boere, eerder as met hul leiers, praat. Hy vind dit baie nuttig.
“Daar is 37 000 kommersiële boere in die land. Dit is nie te veel mense nie en ek sal hulle graag almal wil ontmoet.”
Werkgroep dalk oplossing
Oor die probleme wat boere in die gesig staar, sê Zita hy wil ’n gesamentlike werkgroep op die been bring sodat boere en die Regering sáám antwoorde kan soek vir die probleme.
“Dit is dalk die beste om met jul leiers te gesels, maar die goeie ding van ’n platform soos dié is dat julle die mense op die plase is. Watter inligting is die beste?
"Die inligting wat van die plase af kom, of die inligting wat uit die kantore kom? Júlle weet die beste wat jul konkrete probleme is, en nie die mense in die kantore nie. Daar kan nie ’n prys gekoppel word aan die inligting wat ek van julle af kry nie,” het Zita gesê.
Lees die volledige berig volgende week in Landbouweekblad.
14 Maart 2012