
Die ANC se belofte aan topboere dat grond nie sonder vergoeding gevat sal word, is nie teenoor belanghebbendes in die varsproduktebedryf herhaal.
Mnr. Senzeni Zokwana, Minister van Landbou, Bosbou en Visserye, het het aan afgevaardigdes by die Produce Marketing Association (PMA) se Fresh Connections-konferensie in Pretoria gesê mense “moet nie na voëlverskrikkers luister nie want hulle verteenwoordig niemand nie”.
Die Regering weet mense wat geld in die land belê, moet werkgeleenthede kan skep. Daarom sal die huidige Regering nie grond sonder vergoeding vat nie.
Die 50%-voorstel, waarvolgens die staat tot die helfte van plase wil koop om dit aan plaaswerkers te gee, is ‘n uitnodiging aan boere om betrokke te raak, het hy gesê, en bygevoeg sy deur staan oop as iets onduidelik is.
Die Regering verwag wel ‘n teenprestasie van die landbou: Om opkomende boere te verwelkom en te mentor.
Oor die varsproduktebedryf spesifiek het Zokwana gesê dit is goed om te sien hoe uitvoermarkte in Afrika en die Ooste uitbrei.
Suid-Afrika se kantore in die Brics-lande kan help. “Praat met ons oor handelsgeleenthede. As departement wil ons seker maak julle sukkel nie om nuwe markte te vind nie. Waar struikelblokke is, is ons bereid om met julle saam te werk.”
Zokwana het gesê meer jong mense moet na die landbou gelok word. Hy het voorheen verkeerdelik gedink jong mense stel nie belang nie, maar talle klop aan die departement se deur om deel te word.
Die departement gaan ‘n lys opstel van gegradueerdes wat in dié sektor wil werk.