
"Radikale maatskaplike transformasie", duisende werkgeleenthede en meer jong mense in die landbou is op die Ministerie van Landbou, Bosbou en Visserye se doen- en wenslys vir 2019.
Mnr. Senzeni Zokwana, Minister van Landbou, Bosbou en Visserye, het in 'n vergadering van die parlementêre portefeuljekomitee oor landbou, bosbou en visserye gesê duisende werksgeleenthede in verskillende sektore kan geskep word.
Die Nasionale Ontwikkelingsplan beskou die landbou as een van die voorste sektore met potensiaal vir werkskepping. Projeksies tot 2019 sluit in:
* 3 595 werksgeleenthede deur die werk-vir-visserye-program.
* 400 000 werksgeleenthede deur die Landcare-program.
* 12 000 werksgeleenthede deur die vestiging van plantasies.
* 3 000 geleenthede vir huishoudings wat op klein skaal boer.
* 145 000 werksgeleenthede in die verwerking van landbouprodukte.
* Moontlike geleenthede vir samewerking vir 760 000 plaaswerkers.
Na verwagting sal steun aan klein en medium ondernemings en arbeidsintensiewe bedrywe in dorpe en landelike gebiede en programme, werk skep. Soos die omvattende program vir landbou-ondersteuning (CASP) en Ilema letsema wat spesifieke gemeenskappe of groepe teiken. Zokwana voorsien verder dat die uitbreiding van akwakultuur meer werksgeleenthede sal skep.
Mnr. Mncedisis Filtane, UDM-parlementslid, het gevra hoe realisties dié projeksies vir werkskepping is in die lig van die uitwerking wat langdurige stakings op die ekonomie het, en wat die vergoeding vir die nuwe werkers sal wees.
Zokwana het aangedui dat die vergoeding van werkers die minimum loon vir die landbou sal wees en het sy departement daartoe verbind om saam te werk om "radikale maatskaplike transformasie" teweeg te bring.
Mnr. Bheki Cele, adjunk-minister van Landbou, Bosbou en Visserye, het bygevoeg dat hy, die minister en die adjunk-direkteurs-generaal, voortaan min tyd in hul kantore gaan deurbring sodat hulle terugvoering kan doen oor wat hulle gesien het en nie wat hulle gehoor het nie.