
Sowat 300 000 ha weiveld het in die Oos-Vrystaat in die slag gebly ná verwoestende veldbrande, wat die Minister van Landbou, mnr. Senzeni Zokwana, genoop het om dié dorp Vrydag te besoek. Intussen is twee noodfondse gestig om boere by te staan. Minstens drie mense is in die vlamme dood. Volgens me. Palesa Mokomela, woordvoerder van Zokwana, het mnr. Johann Mocke en sy 15-jarige seun, Zander Mocke, in die vlamme omgekom. Hulle het gehelp om die brande te bestry toe hulle deur vlamme oorweldig is. Mnr. Khela Mokoena het ook in die brande omgekom. Verskeie woonhuise op plase is verwoes en meer as duisend stuks vee het omgekom. Vrystaat Landbou het reeds ’n noodfonds geskep om boere wat skade gely het, te ondersteun. Mense en instansies wat hulp kan aanbied, kan ’n e-pos stuur na cynthia@vslandbou.co.za of haar skakel by 051 4444 609051 4444 609. Hou ook Vrystaat Landbou se Facebook-blad dop vir die jongste oor die brande en hoe om skenkings van voer te maak. AfriForum het ook ’n noodfonds gestig om noodsaaklike ondersteuning aan boere en inwoners van Harrismith te verleen. Ds. Johannes de Bruyn, voorsitter van die AfriForum-tak op Harrismith, sê die veldbrand het in Warden begin en deur Harrismith beweeg voor dit sowat 10 km voor Ladysmith gekeer is. “Ons gemeenskap is geruk deur die lewensverliese asook verlies van eiendom en plase wat tot op die grond afgebrand het.” AfriForum het R10 000 tot die hulpfonds geskenk, en ’n SMS-veldtog is geloods om die publiek aan te moedig om betrokke te raak. SMS “BRAND” na 38310 om R10 tot die hulpfonds te skenk. Kontak AfriForum by 012 644 3951012 644 3951 vir meer inligting en ander donasies.
Zokwana het gesê die departement sal dadelik bystand verleen aan die boere en hul werkers wat hul besittings en vee in die brande verloor het. Dit behels berading, voer vir lewende hawe, die herstel van heinings en medisyne vir diere wat in die brande beseer is.