Pres. Jacob Zuma het tot die regsgeding oor die Lesotho-grens toegetree om vir ’n skikking buite die hof te vra, sê Vrystaat Landbou (VL).
Mnr. Kobus Breytenbach, voorsitter van die organisasie se veiligheidskomitee, sê die president het die versoek tot hulle gerig en hulle is tans in gesprekke met die regsverteenwoordigers van die provinsiale staatsdepartemente wat respondente in die saak is.
Die versoek volg ná die VL ’n saak van minagting van die hof teen die provinsiale departemente aanhangig gemaak het.
Dít volg op ’n skikking waarvolgens die staat verantwoordelikheid vir onder meer ’n grensheining, grenspad en veiligheid langs die grens aanvaar het. Die VL sê dié ooreenkoms word egter nie nagekom nie.
Raamwerk van voorstelle
Breytenbach sê hulle het ’n raamwerk van voorstelle aan die departemente voorgelê, waarop die departemente nou moet reageer. Aspekte wat die organisasie as ononderhandelbaar aangedui het, is die daarstelling en instandhouding van ’n behoorlike grensheining en grenspad, asook die beveiliging van die grens.
Breytenbach sê die departemente het reeds aangedui dat hulle nie die geld het om ’n grenspad te bou en te onderhou nie. Die VL het ’n voorstel gemaak dat boere langs die grens, oor wie se plase die pad sal loop, dalk met dié probleem kan help.
Verskeie boere is reeds begunstigdes van die staat deurdat hulle betaal is of nog betaal moet word vir die oprigting van heinings op hul grond namens die staat. Die organisasie stel voor dat dieselfde plan vir die bou van ’n grenspad oorweeg word. “Kosteberamings en bepalings en voorwaardes moet egter nog vasgestel word. Tans is dit net ’n voorstel.”
Veediefstal
Breytenbach sê die situasie rondom veediefstal langs die grens is “onherstelbaar”. Hy sê dit neem steeds daagliks toe en die Veediefstaleenhede het nie genoeg voertuie of voldoende opleiding om die probleem aan te pak nie.
“Ons verwag dat diefstal weer gaan toeneem namate die Caledonrivier in die winter minder water gaan kry. Die rivier se vlak het reeds begin sak, en dit maak dit vir veediewe van Lesotho net soveel makliker om vee te steel en deur die rivier na Lesotho toe te jaag.”
Die organisasie vergader op 8 Mei met die provinsiale regering om die gebrekkige uitvoer van die Nasionale Landelike Beveiligingsplan te bespreek. Dié plan is verlede jaar deur mnr. Nathi Mtethwa, Minister van Polisie, op Bethlehem bekend gestel, maar meer as ’n jaar later is dit steeds nie in werking nie.
Breytenbach sê hulle is vol hoop dat die plan kan werk, want die geld daarvoor geoormerk, is genoeg, dit moet net gedoen word. ’n Bedrag van R839 miljoen is volgens die plan vir die bekamping van landelike misdaad landwyd beskikbaar.
26 April 2012