
Met die terugverwysing van die omstrede Wysigingswetsontwerp op die Ontwikkeling van Minerale- en Petroleumhulpbronne na die Parlement, vlam die hoop op dat die vernietigende effek wat mynbou-aktiwiteite op landbougrond het, beter aandag sal kry.
Pres. Jacob Zuma het dié wysigingswetsontwerp teruggestuur omdat dit nie volgens hom die grondwetlikheidstoets sal deurstaan nie.
Van die redes wat gelys word, is dat die konsultasietydperk kort was en dat die Nasionale Raad vir Provinsies en die provinsiale wetgewers nie openbare deelname voldoende gefasiliteer het nie. Die wysigingswet is ook nie na die Huis van Tradisionele Leiers verwys nie.
Dit gee ook die Minister van Minerale Hulpbronne, die mag om sekere aspekte te wysig of te herroep, wat die grondwetlike vereistes vir wetsveranderinge systap. Die openbare verhore oor die Wysigingswetsontwerp het reeds in September 2013 plaasgevind en dit is reeds in Maart 2014 deur die Parlement goedgekeur.
Me. Annelize Crosby, regs- en beleidsadviseur van Agri SA, sê die terugverwysing van die wetgewing moet in beginsel verwelkom word en sal hopelik die kans bied om van die kwessies beter aangespreek te kry. So byvoorbeeld moet die moontlikheid dat die landboupotensiaal van grond permanent vernietig kan word deur mynaktiwiteite ‘n oorweging wees wanneer prospekteer- en veral mynaansoeke oorweeg word. Daar behoort ook behoorlike afweging van kort- en langtermynbelange te wees.
“Agri SA bly baie bekommerd oor die impak van mynaktiwiteite op landbougrond en oor die beperkte regte van oppervlakte-eienaars in hierdie hele proses.”
Volgens die wysigingswetsontwerp kry die staat ’n belang van 20% in alle prospekteer- en produksieregte en hy kan later selfs maatskappye se regte uitkoop. Die DA het al uitgewys dat hierdie ‘n manier van die ANC-regering is om te probeer om die land se minerale op ‘n bedekte wyse te nasionaliseer.
Die Treasure The Karoo Action Group (TKAG) het ook die terugverwysing verwelkom. Me. Jeanie le Roux, bedryfsdirekteur van die TKAG, sê hulle verwag dat die mynboubedryf sterk sal druk uitoefen dat die staat sy beoogde eienaarskap in olie- en gasbedrywighede verminder.