
Wanneer die tyd reg is, sal swart boere wat op regeringsgrond boer, titelaktes kry, het pres. Jacob Zuma in die Nasionale Vergadering gesê toe hy vrae van parlementslede beantwoord het.
Die kwessie rondom titelaktes is ’n teer punt vir opkomende boere wat meen die Regering strem hul vooruitgang deurdat hulle nie die staatsgrond waarop hulle boer, kan koop nie.
Me. Deidre Carter, landbouwoordvoerder van Cope, het aan Zuma uitgespel dat nie eintlik gewerk word om ’n nuwe klas swart kommersiële boere op te bou nie, maar eerder om die ongeregtigheid wat apartheid meegebring het, te gebruik om meer grond in staatshande te kry en te beheer.
Swart boere gekant teen huur-opsie
Sy het gesê ten spyte van swart boere se herhaalde teenkanting oor die huur van grond, het die Regering voortgegaan om in 2013 ’n beleid te aanvaar om landbougrond wat hy vir herverdeling aankoop, eerder te verhuur as om dit aan boere te verkoop.
Sy wou by hom weet of dit waar is dat die Regering se doel nie is om apartheid aan te spreek of armoede uit te wis nie, maar eerder om alle opkomende boere en, oor tyd, alle kommersiële boere huurders van die staat wil maak.
Zuma het sit onomwonde gestel dat slegs die Regering kan help om die grondkwessie in die land op te los. “Ons moet aanvaar dat die kwessie van grond behoorlik en ter bevrediging van baie aangespreek moet word.”
Aan die regte mense kan uitdeel
Hy het verder verduidelik dat die Regering die grond koop sodat hy dit aan die regte mense kan uitdeel. Hy het bygevoeg dat die Regering nie geweld gebruik om die grond te bekom nie, maar dit eerder koop.
Hy het ook benadruk dat die kwessie van eienaarskap van grond en huurpag nog lank gaan voortduur, maar wanneer die tyd wel reg is, sal titelaktes uitgedeel word.
“Veronderstel jy sê aan swart mense hulle kan nie grond besit nie en net vir ewig moet huur, dan sê jy eintlik dat terwyl ander Suid-Afrikaners hulle plase kan besit, kan jy nie weens jou velkleur.”
Opsie is die Regering s'n
Die huur-opsie wat die Regering voorstaan, is die weg wat hy tans bied om die grondkwessie te hanteer. Die Regering koop die grond juis omdat die mense nie geld het om dit self te doen nie, het Zuma verduidelik. “Vir nou huur jy die grond sodat jy jouself as ’n kommersiële boer kan vestig. Ek dink nie die tyd is al bereik waar boere op staatsgrond kan sê hulle het die geld om die plase te koop nie. Tot daardie tyd aanbreek sal die grond in die Regering se besit bly.”
Mnr. Musi Maimane, leier van die DA, wou ook by Zuma weet of hy die Zoeloe-koning ondersteun in sy aksie om titelaktes aan sy onderdane te gee.
Koning Goodwill Zwelethini
Koning Goodwill Zwelithini is die enigste trusteelid van die Ingonyama-trust en die grootste grondeienaar in KwaZulu-Natal. Zwelithini het onlangs aangekondig dat die nagenoeg 4 miljoen bewoners wat op die trustgrond woon, oor die volgende jare titelaktes sal ontvang.
Zuma het gesê die Regering het ’n beleid hoe om die grondkwessie te hanteer. “Ek hoef niemand te ondersteun nie. Ek moet met die beleid werk wat ons tot op ’n sekere punt sal bring.”