
Ware versoening sal moeilik, indien nie onmoontlik wees as die grondkwessie nie opgelos word nie, het pres. Jacob Zuma gesê toe hy sy staatsrede gelewer het.
Hy kon ná byna ’n uur van chaos in die Nasionale Vergadering (NA), eers sy staatsrede lewer. Dit was gelewer met meeste opposisiepartye wat besluit het om die Huis te verlaat, nadat ondersteuningspersoneel van die NA die EFF-lede uit die gebou verwyder het.
Die Regering kon tot dusver nog net agt miljoen hektaar bewerkbare grond aan swart mense oordra. Dit verteenwoordig 9,8% van die 82 miljoen hektaar bewerkbare grond in die land.
Onteiening, binne die wet
Zuma het uitgelig dat die Regering sy voorneme bekendgemaak het om die Onteieningswet te gebruik om grondhervorming en die herverdeling van grond na te jaag. Maar dit sal binne die perke van die Grondwet gebeur.
“Ek het nou besluit om die wetsontwerp terug na die Parlement vir heroorweging te stuur op die basis dat die wetsontwerp moontlik nie die grondwetlike toets sal slaag nie. Dit is omdat die openbare deelnameproses nie voldoende gedoen is nie.”
Hy hoop dat die Parlement spoedig sal handel sodat die wetgewing gefinaliseer kan word om transformasie te weeg te bring, het hy gesê.
Minder huishoudings in landbou
Die hoeveelheid huishoudings wat betrokke by landbou is, het vanaf 2011 tot 2016 met 19% gedaal.
Zuma het benadruk dat die Regering voortgaan met planne vir die versterking van die relatiewe regte van mense wat die grond bewerk (50/50-plan).
Zuma het hierdie plan in sy staatsrede van 2015 aangekondig waar 50 loodsprojekte rakende die voorgestelde beleid teen 2019 in werking moet wees. “Tot op datum is 13 voorstelle reeds goedgekeur wat 921 plaaswerkerhuishoudings teen ’n waarde van R631 miljoen baat by vind.”
Gaan swart boere help
Hy het ook aangekondig dat die Regering 450 swart boere sal help om kommersiële boere te word.
Rakende droogtehulp het hy aangedui dat R2,5 miljard bewillig was vir veevoer, water, infrastruktuur, boorgate en ander ingrypings.