
'n Drastiese verbetering in produksie op plase en in die lewens van begunstigdes van grondhervorming is sigbaar, sê pres. Jacob Zuma.
Zuma het repliek op die presidensie se begroting in die Parlement gelewer.
Mnr. Letlapa Mphahlele, PAC-LP, het aangevoer dat die Regering se restitusieprogram 'n “hartseer storie van mislukking” is, of vir mislukking opgestel was omdat daar geen betekenisvolle ondersteuning vir die begunstigdes is nie.
Zuma het in sy repliek op die begroting toegegee dat heelwat werk nog voorlê en dat dit wel gedoen sal word. “In 2009 het ons vir onsself 'n teiken gestel om 30% van die 82 miljoen hektaar landbougrond wat deur wit mense besit word, terug aan swart mense teen 2014 te gee. Hierdie 30% is 24,5 miljoen hektaar.”
Eienaars hou op om te belê
Hy het uitgewys dat die middeltermyn-hersiening aandui dat die aankoop en die herverdeling van 'n spesifieke stuk grond baie keer lank neem en dat dit die koste van herverdeling verhoog omdat die voormalige eienaar ophou om in die grond te belê. Baie van die plase is dan in ‘n swak toestand wanneer dit aangekoop word.”
Zuma het ook gesê dat daar baie keer ook 'n afname in die produktiwiteit op die herverdeelde plase is en daarom is die herkapitaliseringsprogram in 2010 ingestel. Teen einde verlede jaar het 595 plase die program vir herkapitalisering begin deurgaan.
Volgens Zuma is strategiese vennote en mentors, wat bevoeg is en ook ervare boere is, aangestel om die begunstigdes te help. Hulle help om die landbouvaardighede van die swart boere te ontwikkel, bied hulle toegang tot markte en waar moontlik, kry vir hulle toegang tot die hele waardeketting.
31 Mei 2012