
Daar is rede vir optimisme, want nie net het die ekonomiese toestande verbeter nie, maar die landbou sal na verwagting herstel vanweë beter weerstoestande, terwyl die toerisme- en die vervaardigingsektor deur die swakker rand ondersteun sal word.
Dít is die positiewe boodskap waarmee pres. Jacob Zuma sakeleiers en die georganiseerde landbou by ’n sake-ete begroet het. Dié ete was deel van die verrigtinge in aanloop tot die jaarlikse staatsrede waar die pas vir die Regering se werksverrigting aangegee word.
Dit is duidelik dat aandag aan ’n vinnig groeiende ekonomie gegee sal word om die land se uitdagings van armoede, ongelykheid en werkloosheid te troef. Die land se werkloosheidsyfer staan tans 27,1%, die hoogste sedert Junie 2004. Werkloosheid onder die jeug vir die ouderdomsgroep 18 tot 29 jaar, is 44%.
Zuma het gesê in Suid-Afrika, net soos in die res van die wêreld, is die grootste indiensnemers van ongeskoolde arbeid aan die krimp. “Dit plaas meer werkers in die werkmark en nie net is hulle werkloos nie, maar dis ook moeilik om hulle in diens te neem weens ’n tekort aan vaardighede.”
Optimisties
Hoewel dit blyk dat wêreldwye proteksionisme aan die toeneem is wat handel negatief raak, is daar tog meer wat gedoen kan word en geleenthede wat aangegryp kan word, meen Zuma.
Die ekonomiese vennootskapsooreenkoms (EPA) tussen die Suider-Afrikaanse Doeane-unie (Sadu) en die Europese Unie (EU), wat verlede jaar in Oktober bekragtig is, bied verhoogde marktoegang vir sekere produkte, wat landbouprodukte insluit.
Dan moet die land ook nie sig verloor van die geleenthede en uitdagings wat Brexit gaan bring nie, het hy gesê. Verder is streeksintegrasie en –handel met ander lande in Afrika ’n sleutelkomponent van Suid-Afrika se handelsbeleid en dit bied baie geleenthede.
Zuma het aangedui dat daar vordering gemaak word om ’n vryhandelsgebied vir die vasteland tot stand te bring. Die eerste fase van die onderhandeling om goedere en dienste in te sluit, sal vanjaar voltooi word. Dit sal meer kommersiële geleenthede vir Suid-Afrikaanse maatskappye bring.
Hy het sakelui aangemoedig om met die Regering saam te werk sodat meer ontwikkeling in die ekonomie plaasvind en om dit aantrekliker te maak vir binne- en buitelandse beleggers. Zuma het verlede jaar ’n interministeriële komitee op beleggings gestig wat beleggers moet help om beleggingsgeleenthede in Suid-Afrika aan te gryp.
Die Regering sal in Maart vanjaar sy eenstopdiens vir beleggers in Pretoria bekend stel en nog drie provinsiale kantore sal teen die middel van die jaar bekend gestel word. Dié eenstopdiens sal beleggers se skakel met regeringsdepartemente wees waar registrasie, lisensies en permitte om sake te doen, gefasiliteer sal word.