
Plaasaanvalle en die rassefaktor is ’n tema wat al hewige debatte binne die georganiseerde landbou veroorsaak het.
Pres. Jacob Zuma meen egter dat hoewel baie plaasaanvalle op wit kommersiële boere se plase plaasvind, dit nie ’n rasgedrewe misdaad is nie. Hy meen die aanvalle moet binne die konteks van die hoë vlakke van misdaad in die land gesien word.
In ’n onderhoud met Beeld het Zuma gesê dat baie moorde ook in informele nedersettings gepleeg word, maar daaroor word nie altyd berig nie. Die Regering verwerp plaasaanvalle en sal aandag gee aan boere se besware dat die omvattende landelike beveiligingsplan nie op grondvlak tot uitvoer kom nie.
Voorrangmisdaad
Die kwessie van die verklaring van plaasmoorde tot ’n voorrangmisdaad is ook aangeraak en daarop sê Zuma mnr. Nathi Mthethwa, Minister van Polisie, het al in die Parlement gesê plaasaanvalle is vir die Polisie net so ’n groot voorrangsaak as enige ander misdaad.
Die President het volgens die koerant ’n pluimpie aan die land se kommersiële boere gegee: “Waar ek ook al kom, sê die boere vir my hulle is bereid om as mentors vir opkomende boere op te tree.” Hy sal graag wil sien dat die land ’n netto uitvoerder van voedsel word.
Grondhervorming
Wat grondhervorming betref, het Zuma weer die versekering gegee dat dié proses binne die raamwerk van die Grondwet sal en moet geskied. “Ons sal nooit daarvan afsien nie. Wat ons (die ANC) ook al in Desember in Mangaung besluit, moet binne die raamwerk van die Grondwet wees.”
Op dié kongres sal die veelbesproke grondplafonne, wat ’n individuele boer se grondbesit sal bepaal, ook bespreek en vasgestel word.
Nóg ’n versekering
Intussen sê dr. Theo de Jager, ondervoorsitter van Agri SA, hy dink nie dié versekering deur Zuma gaan beleggers, wat die afgelope paar jaar weens onsekerheid uit die landbou en Suid-Afrika onttrek het, gerusstel nie.
Mnr. Gugile Nkwinti, Minister van Landelike Ontwikkeling en Grondhervorming, het verlede week - ná die ANC bekend gemaak het dat onteiening sonder vergoeding van die tafel gevee is – aan De Jager gesê: ”Ons het nou ons deel gedoen, nou moet julle jul deel doen en die beleggers begin terugkry.”
“Die Duitse en Indier-beleggers met wie ons intussen kontak gemaak het, sê hulle sal eers wag en kyk wat die besluite in Mangaung gaan wees voor hulle weer oor beleggings gaan besluit,” vertel De Jager.
Volgens De Jager sal beleggersvertroue slegs herstel word as aktiewe optrede teen korrupsie en misdaad sigbaar gaan word. “Dit beteken meer moet gedoen word as net die gewone. Nóg ’n versekering deur nóg ’n politikus is nie genoeg nie.”
Bron: Beeld