
Grondbesit en eiendomsreg oor die algemeen is onafskeidbaar aan mekaar verbind en pres. Jacob Zuma skep onsekerheid oor eiendomsreg met sy populistiese uitsprake in die verband, sê mnr. Werner Weber, die VF Plus se provinsiale leier vir Mpumalanga.
Weber sê in 'n tyd van ekonomiese onbestendigheid, soos wat Suid Afrika tans ervaar, is 'n getorring aan eiendomsreg 'n resep vir algehele ekonomiese en finansiële chaos.
Hy sê die Onteieningswet is 'n verkeerde wet in 'n verkeerde tyd in 'n land wat dit allermins kan bekostig, en dit moet met mag en mening teengestaan word.
“Op hierdie wyse is pres. Zuma besig om Suid Afrika, sy ekonomie en landbou, te verwoes. Hy moet of gestuit of ontsetel word. Hy hou hom besig met skeefgetrekte Afrika-denke oor grond en die ekonomie, wat rampspoed vir Suid Afrika kan inhou.
“Hierdie sienings van die president bots lynreg met die bestuur van 'n moderne nywerheidsekonomie. Sy sienings oor grond en die besettingsgeskiedenis van Suid Afrika, word ook nie deur geskiedkundige feite ondersteun nie,” sê Weber.
* Die VF Plus gaan pres. Jacob Zuma en die ANC by die Menseregtekommissie van haatspraak verkla na Zuma se uitlatings dat die land se probleme begin het met die aankoms van Jan van Riebeeck in Suid-Afrika, sê adv. Anton Alberts, die VF Plus se parlementêre woordvoerder oor kommunikasie.