
Die heropening van grondeise is goedgekeur, wat tot 30 Junie 2019 sal strek.
Die presidensie het bekendgemaak dat pres. Jacob Zuma die Wysigingswetsontwerp op die Herstel van Grondregte geteken het.
Die wysiging maak voorsiening dat diegene wat die eerste ronde grondeise gemis het, wat 31 Desember 1998 geëindig het, nou vyf jaar gegun word om ‘n eis in te stel. Voornemende begunstigdes van restitusie kan egter slegs eis vir grond wat na 1913 afgeneem is. Die nuwe eisproses skop vandag (30 Junie) af.
Landbouweekblad het mnr. Gugile Nkwinti, Minister van Landelike Ontwikkeling en Grondhervorming, gevra waarom so lank geneem is om die wet te bekragtig. Hy het gesê dat die DA sekere grondwetlike bekommernisse oor die voorgestelde wetgewing aan die president uitgelig het.
Die president het senior regslui genader om daarna te kyk, om die grondwetlikheid te verseker, voordat hy dit onderteken het, het Nkwinti gesê.
Intussen het mnr. Thami Mdontswa, grondeisekommissaris, aan Landbouweekblad gesê dat ‘n beleid nog ontwikkel word wat die Khoi en San sal akkomodeer om grond te kan eis wat vóór 19 Junie 1913 onteien is. Dié beleid sal insluit die eis van erfenisgebiede en geskiedkundige plekke wat deur alle Suid-Afrikaners, wit of swart, geëis kan word. Hierdie uitsonderings beteken egter nie dat dit dieselfde vorm as restitusie gaan aanneem nie, het Mdontswa gesê.