
Die beginsel van ’n gewillige verkoper en ’n vrywilliger koper is ’n te stadige proses vir grondhervorming in die land en ’n nuwe restituasieprogram is nodig.
Pres. Jacob Zuma het dié stelling by die opening van die ANC se 53ste beleidskonferensie in Midrand gemaak. Luidens ’n berig op News24.com het Zuma wel nie uitgewys watter ander struktuur en plan vir grondhervorming nodig is nie.
Zuma het verder gesê Suid-Afrika se ekonomie is steeds meestal onder die beheer van wit mense en die staat moet drastiese stappe doen sodat die swart meerderheid kan voordeel trek uit die land se rykdom.
“Die struktuur van die apartheid-era se ekonomie het grootliks behoue gebly,” het Zuma aan duisende ANC-afgevaardigdes gesê. “Die eienaarskap van die ekonomie is primêr steeds in die hande van wit mans, soos dit nog altyd was. Die tyd het aangebreek om iets meer drasties te doen ten opsigte van ekonomiese transformasie en vryheid.”
Die staat faal
Intussen sê die Demokratiese Alliansie volgens ’n mediaverklaring, “die mislukking van grondhervorming is die mislukking van die staat self.” Die party verwys na die mening dat dié beginsel vir die mislukking van grondhervorming verantwoordelik is, as ’n “wanopvatting.”
“Dit is eenvoudig nie waar dat ’n verkoper onteiening en grondhervorming op hierdie manier kan frustreer nie. Verder is dit vrugteloos om te probeer om ’n vereiste wat nie in Artikel 25 van die Grondwet vervat is nie, te ‘hersien ‘,” sê me. Dene Smuts, die DA se woordvoerder vir justisie en grondwetlike ontwikkeling.
Bron: News24.com