
Pres. Jacob Zuma het me. Baleka Mbete, speaker van die Nasionale Vergadering (NV) en me. Thandi Modise, voorsitter van die Nasionale Raad vir Provinsies (NRP) gevra om klarigheid te gee rakende prosesse wat die Parlement gevolg het vir die goedkeuring van die Onteieningswetsontwerp.
Dit kom nadat verskeie organisasies en individue petisies aan die president gestuur het om nie die wetgewing te bekragtig nie weens ongrondwetlike aspekte.
Die Kabinet het dit onlangs by monde van mnr. Jeff Radebe, Minister in die Presidensie, dit duidelik gemaak dat die Parlement se goedkeuring van die onteieningswetsontwerp regsekerheid aan die staat bied om voort te gaan met die implementering van die land se program van radikale maatskaplik-ekonomiese transformasie om die grondkwessie op te los.
Kwessies is uitgewys
Die presidensie sê in ’n verklaring dat die petisies wat pres. Zuma ontvang het, verskeie prosedurele kwessies uitwys, soos dat sommige van die prosesse wat by die NRP en sommige provinsiale wetgewers gevolg is, nie in lyn met die Grondwet i nie. Ook dat die NRP nie genoeg met die publiek gekonsulteer het voor die wetsontwerp goedgekeur is nie.
Nóg ’n kwessie wat in die petisies geopper is, is dat die wetsontwerp nie na die Nasionale Huis vir Tradisionele Leiers gestuur is vir goedkeuring nie. Tradisionele leiers het vroeër versoek dat die onteiening van kommunale grond, wat onder tradisionele leierskap is, buite die trefwydte van die onteieningswetsontwerp gelaat moet word. Hierdie versoek is nie toegestaan nie.
Ter verduideliking waarom hierdie grond van onteiening vrygeskeld moet word, het mnr. Sipho Mahlangu, adjunkvoorsitter van die Nasionale Huis van Tradisionele Leiers, aangevoer dat tradisionele leiers nie kan bestaan sonder grond nie. “Baie oorloë is regdeur die geskiedenis vir hierdie grond geveg, wat se beskermers vandag die tradisionele leiers van Suid-Afrika is.”
Kommunale grond
Hy het ook gesê dat indien kommunale grond onteien word, sal dit teenstrydig wees met die hoofsaaklike doel van die wetgewing, om die ongelykhede van die verlede aan te spreek.
Daar word al langer as agt jaar aan die wysigings van dié wetsontwerp gewerk om die huidige Wet op Onteiening (Wet 63 van 1975) te wysig sodat dit volgens die Regering in lyn met die Grondwet kan wees en hy sy grondhervormingsdoelwitte vinniger kan bereik.