Pres. Jacob Zuma het tydens sy repliek op die Staatsrede gewaarsku dat die grondkwessie met groot versigtigheid gehanteer moet word.
Hy het reageer op dr. Pieter Mulder, leier van die VF-Plus, se stelling dat nie-blankes in die verlede nie in die hele Suid-Afrika woonagtig was nie. Bantoesprekendes het volgens Mulder van die ewenaar af beweeg, terwyl blankes van die Kaap af boontoe beweeg het en mekaar by die Keirivier ontmoet het.
Daar is genoeg bewyse dat daar geen Bantoesprekendes in die Wes-Kaap en die Noordwes-Kaap was nie, sê Mulder. Die gebied beslaan sowat 40% van die land.
Sensitiewe kwessie
Zuma het gesê dat Mulder die land verstom het met stellings wat die geskiedenis van die onteiening van grond ontken. Hy het verder aangedui dat die grondkwessie so sensitief is dat dit vir sommige mense in die land ’n saak van lewe en dood is.
“Daarom hanteer ons die kwessie versigtig en ek dink nie ons moet emosies in dié land opjaag nie. Dis verkeerd. Dit is nie goeie leierskap nie, maak nie saak wat jou kiesafdeling dink nie.”
Intussen het die TLU SA luidens ’n verklaring gesê dat die ANC self die emosies ten opsigte van grond en eiendomsreg opjaag met ’n groenskrif oor grondhervorming, praatjies oor nasionalisering, dreigemente van onteiening en Zuma se verklaring dat die beginsel van gewillige koper en gewillige verkoper nie werk nie.
Verder word emosies opgejaag deur ’n president wat “Bring my masjiengeweer” sing. Sy party wil ook graag hê dat “Skiet die boer” in die openbaar gesing moet word, het die organisasie gesê.
Volgens die Regering kon hy tot dusver nog net 8% van sy teiken van 30% van Suid-Afrika se landbougrond teen 2014 oordra. Die Regering sien ook die beginsel van gewillige koper en gewillige verkoper as die groot sondaar in die proses van die stadige oordrag van grond.
17 Februarie 2012