
Grondeise gaan tog vir ‘n verdere vyf jaar oopgestel word, maar ’n miljoen nuwe werksgeleenthede in die landbou teen 2030 is die Regering se doelwit, het pres. Jacob Zuma in sy staatstrede gesê.
Zuma se aankondiging oor die grondeise kom te midde van pleite van opposisiepartye dat hy nie die Wysigingswetsontwerp op die Herstel van Grondregte moet teken nie, wat die proses tot 2019 sal heropen nie. Zuma het gesê die finalisering van eise wat voor die 1998 afsnydatum ingedien was, sal versnel word.
Die proses waar die afstammelinge van die Khoi en San die geleentheid gegun sal word om ook grond te kan eis, sal gekodifiseer word. Dit beteken dat spesiale uitsondering vir dié stamme gemaak sal word sodat hulle grond kan eis wat hulle voor 1913 verloor het.
Rakende die landbou het hy weer verwys dat die sektor baie werk kan skep. “Ons teiken is dat die landbousektor ‘n miljoen werke teen 2030 sal skep.”
Hy het ook sterk op energie, ekonomiese groei, die ontwikkeling van infrastruktuur en die verbetering van plaaslike regering gefokus.
Werk sal op tegniese vlak aan alle vorms van energie, veral kernkrag en skaliegas, gedoen moet word wat betref finansiering, veiligheid, ontginning en die plaaslike vervaardiging van komponente. Hy het weer eens die belofte uitgespreek dat skaliegas binne die raamwerk van die land se “goeie omgewingswette” nagejaag sal word.
Oor die volgende drie jaar sal R847 miljard bestee word aan verskeie infrastruktuurprojekte. Die konstruksie van die Mzimvubu-dam in die Oos-Kaap sal voortgaan, so ook die verhoging van die Clanwilliamdamwal.
“Ons sal die aanskaf van plaaslike produkte bevorder en plaaslike produksie verhoog deurdat die staat 75% van sy goedere en dienste van Suid-Afrikaanse produsente sal koop.
Die land se ekonomiese groeiteiken is gestel op 5% teen 2019. Zuma het sy hoop uitgespreek dat die private sektor net soveel vertroue in die ekonomie sal toon as die openbare sektor. “Die lae vlakke van belegging strem ekonomiese groei. Ons is vasberade om met die private sektor te werk om struikelblokke uit die weg te ruim, wat in die pad van belegging staan.”